Afrikaanse webwerf English website
martin steyn
NB-Uitgewers

op die spoor van

Sprokie vir ’n Plain-kind

Dis die ogies wat ek eerste sien, blink in die donker onder die bed, in die verste hoek. Hy maak nie ’n geluid nie.

“Dis oukei,” sê ek. “Kom. Niemand gaan vir jou seermaak nie.” Ek steek my hand uit.

Hy reageer nie. Die blink kolletjies verdwyn ’n oomblik en verskyn weer.

“Ek is van die polisie. Jy hoef nie bang te wees nie. Jy is veilig nou.”

Dit moet die seuntjie op die foto’s in die leefkamer wees. Foto’s wat nou bloedspatsels op het. Hoeveel het hy gesien van wat die bloed in daardie vertrek veroorsaak het? Of het hy slegs die geluide gehoor?

Die kolletjies verdwyn en verskyn.

“Oukei. Ek sal wag tot jy reg is om uit te kom. Maar ek gaan vir my net gemakliker maak hierso.” Ek skuif terug en gaan lê op my sy sodat ek hom nog kan sien. “My naam is Asim. Wat is jou naam?”

Net die klam oë wat knip.

Ek draai op my rug, want ek wil nie heeltyd na hom staar soos ’n roofdier nie, en trek my knieë op. “My vriende het vir my Skate genoem. Oor ek altyd op ’n skateboard was. Ek sal liewer nie vir jou vertel waar ek die skateboard gekry het nie. Dit was voor ek my ways gemend het en ’n poliesman geword het.”

Losper se stem dryf by die deur in, natuurlik weer die een of ander simpel ding kwytgeraak, want daar is ’n gelag. Gewoonlik sal ek saamlag, daar waar ons langs ’n liggaam staan en hy die gruwelike realiteit vir ’n oomblik laat kraak, maar nou wil ek hê hy moet sy mond toehou.

Ek kyk onder die bed in. “Funny ding is hoeveel mense vir my gesê het ek gaan nog ’n arm of ’n ding met daai skateboard breek. Maar toe breek ek my arm met sokker. Natuurlik oor ek voor die girls afgeshow het.”

Hy sit nog net so stil in die hoek. Hoe lank voor Losper kom kyk wat van my geword het en die fyn draadjies uitmekaar trek wat ek hier probeer weef?

Ek tik teen my maag. “Ek raak darem nou vir jou honger.” Drie eiers lê in die potjie op die stoof, die water weggekook. Twee snye brood staan in die rooster, reg om af te druk, ’n bottel mayonnaise langsaan. Hy het nog nie geëet nie. “Weet jy waarvoor is ek lus? ’n Kentucky Rounder. Hou jy van KFC?” Ek loer na hom en kyk weer na die plafon.

“Pops.”

Dis so sag dat ek nie weet wat ek gehoor het nie, maar ek voel dis ’n kritieke oomblik. En dan kliek dit. “Die nuggets.” Ek probeer my opgewondenheid oor die deurbraak uit my stem hou. “Dis ’n goeie keuse. Ek sê jou wat, laat ek gou kyk of ek iets kan organise. Ek is nou terug.”

Ek staan op en loop tot by die deur, fluit saggies deur my tande. Losper kyk om en maak sy mond oop, maar ek beduie vir hom om stil te bly. Helfte van my bly in die kamer; ek wil hê die seuntjie moet my kan sien.

“Die kind is onder die bed,” fluister ek.

“Wat? Hoe het die uniforms dan …”

“Hy is honger,” sny ek hom af, “en ek dink ek kan hom uitlok met KFC. Kan jy organise? Dit moet die Pops wees, die nuggets.”

Losper hou sy hand uit.

Ek haal my beursie uit en gee vir hom ’n R50-noot. “Kry iets om te drink ook. Milkshake.”

“En vir my troubles?”

Ek gee hom ’n kyk en hy loop. Om die taak aan ’n uniform te gaan delegeer, soos ek hom ken.

Ek gaan lê weer langs die bed. Praat is nie eintlik my ding nie, maar ek doen wat ek kan. Die donker syfer soos ink by die kamer in en ek gaan skakel die lig aan. Vir die eerste keer kan ek ook die gesiggie in die skemer uitmaak. Die donker oë is groot en ek kan nog sien waar die traanspore op sy wange droog geword het. Hy is opgevou, so klein as wat hy hom kan maak.

Uiteindelik hoor ek Losper saggies van die deur af roep en ek gaan na hom toe.

“Was meer as vyftig.”

Ek ignoreer hom en vat die sak. Die geur gaan reguit na my maag toe. Ek vis die houer uit en haal die deksel af. Kniel voor die bed en kantel die houer in die seuntjie se rigting.

“Ek sit dit hier neer. Hierso is ook ’n milkshake vir jou.”

Ek skuif agteruit en gaan sit teen die muur.

Wag.

Uiteindelik sien ek ’n handjie onder die bed uitsteek. Toe die gesiggie.

Hy hou my dop.

“Haai,” sê ek. “Dis lekker om vir jou te kan sien.”

Die swart oë knip net.

Ek kyk in die rondte. “Ek hou van jou kamer.”

Ek het nooit my eie kamer gehad nie. Moes altyd deel met my broer. Dit was nie regtig ’n krapplek nie, baie kinders in Mitchells Plain het dit baie erger, veral as jou dobbelsteen sleg val en jy word oos van die spoor gebore.

Die seuntjie kruip stadig uit, stukkie vir stukkie, soos ’n verkleurmannetjie, sy oë heeltyd op my.

Ek bly sit, my bene opgetrek, hande op my dye. Ek beweeg nie, haal skaars asem.

Hy sit op sy knieë, rug teen die bed, en hou my dop. Hy steek sy hand uit en vat die houer. Kyk eers weer na my voor hy ’n stukkie hoender vat en in sy mond druk. Ná die derde stukkie eet hy gulsig en ek glimlag.

Hy hou op kou, kyk in die houer, kyk na my. Hou dit na my toe uit.

Ek skuif nader op my boude en vat ’n stukkie hoender, sit dit in my mond. “H’m, dit was ’n goeie keuse. Lekkerder as ’n burger.”

Ons deel die res, maar ek sorg dat ek stadiger as hy eet. Ek haal die melkskommel uit die sak en gee dit vir hom.

Hy vat ’n sluk, kyk op na my. Die swart oë is nat. Dit loop oor.

“My daddy is dood.”

Hy praat nie weer nie.

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou