Afrikaanse webwerf English website
martin steyn
Crystal Lake Publishing

skadustemme

Kira

Tamason.

Ek stoot die huisie se deur oop, die Knysna-meer se sagte kabbeling agter my. Die toegestane reuk tref my soos ’n beskuldiging. Die stof lê seker twee sentimeter dik en ek gewaar meer as een iets skarrel.

Ek is bly om terug te wees. Ek het nog altyd Tamason as “terug” gesien en die woonstel in Stellenbosch as “weg”, al bring ek my dae in die studentedorp deur. Dit laat my altyd weer heel voel.

Dis hoekom ek hierheen gevlug het.

Ek het Tamason by my ouers geërf. Van die begin af was daar ’n band tussen my en die huisie; dit was ek wat haar die naam gegee het, toe ek klein was. Ons het op die stoepie gesit en my ma het vir my die sonsondergang gewys. Toe die rooi vingers, ’n vrou se vingers sonder twyfel, sysagte strepies deur die wolke trek, het ek een woord gesê: “Tamason”. Wat ek probeer sê het, was “tamatieson”, maar in daardie stadium was tamatie nog óf “matie” óf “tama”, na gelang van die sin, of my bui. En so is my liefdeshuisie gedoop.

Dit neem my die res van die middag om die huisie ordentlik skoon te maak, “van hoek tot kant” soos my ma so lief was om te sê. In die proses ontdek ek allerhande vieslike gediertes wat heerlik hier in die menseafwesigheid kom broei en muteer het en almal word summier ge-Baygon en uitgemoor; ek het geen gewete as dit by insekte kom nie.

Met die stof en lyke verwyder en my lugweë skoon genies, gaan sit ek met ’n Castle op die ou swaaibank op die stoep. Ek kyk uit oor die water. Die kabbels lyk so kalm, maar die oppervlak is ’n donker sluier.

Ek pak ’n vuur aan en braai ’n hele pak wors. Teen die tyd dat dit reg is, staan daar nog drie leë bierblikkies langs die braaiplek. Ek eet helfte van die wors saam met ’n rolletjie en gaan sit weer op die swaaibank, my tweede laaste Castle in die hand.


Ek word bewus van hande. Sagte hande, vrouehande, wat versigtig aan my voorkop raak. Ek maak my oë oop, deurmekaar en gedisoriënteer, en skrik.

Maar sy is al vyf tree weg. Haar oë is groot en donker soos die meer, haar wange dofwit en glad in die gaslamp se lig, haar mond effens oop. Donker hare hang tot op haar skouers. Sy het ’n los wit rok aan, iets wat amper soos ’n laken om haar liggaam vou, en haar kaal voete is teen mekaar. Sy hou haar hande voor haar.

Ek maak my mond oop om iets te sê, maar sy is reeds weg.

Net weg. Soos ’n druppel reën op die meer.

Ek vryf oor my gesig en wonder of ek wakker is. Ek voel nog haar koel vingerpunte teen my vel.

Ek staan op en trap my leë bierblikkie langs die swaaibank raak, verloor my balans en ploeg neer.

Dis een manier om seker te maak ek is wakker. Ek bly op die plankstoep lê en wonder oor haar. Was sy regtig? Of was dit net ’n droom?

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou