Afrikaanse webwerf English website
martin steyn
NB-Uitgewers

skrik op die lyf

Die trommel

Stiefpa sit op die bank. In sy regterhand klem hy die DStv se afstandbeheerder vas. Gewoonlik sou hy ’n Castle in sy linkerhand gehad het, op sy bobeen gestut, teen die drillerige maag wat oor sy skoot smelt. Die borshare sou bo sy vergeelde frokkie uitgepeul het.

’n Mens sal dink die feit dat hy daar sit, pla my die meeste. Hy is immers al amper twee weke lank dood. Maar dis eerder die vooruitsig om die verrottende bloed en breinweefsel van die bank se rugleuning af te was wat my so frustreer dat alles sommer om my dof raak.

Wanneer ek weer kan fokus, sien ek hy het op pad sitkamer toe ’n spul maaiers op die mat gemors. Op die bank ook. Wriemelend op soek na kos.

Stiefpa sit net daar. Kyk Die Nataniël Tafel. Nogal vreemd, aangesien hy nooit ’n goeie woord oor Nataniël te sê gehad het toe hy nog geleef het nie. Ek wonder of hy die grap sal vang as ek vir hom The Walking Dead wys. Waarskynlik nie, my stiefpa was nie bekend vir sy sin vir humor nie.

Vandat hy dood is, praat hy nie meer nie. Kan nie sê ek mis sy stem nie. Dit het ’n nasale byklank gehad, soos ’n broeknaat wat skeur. Die inhoud van sy gesprekke het nie hiervoor opgemaak nie.

Ek kyk na die spleet in die agterkant van sy kop, die geskeurde breinweefsel, die maaiers wat daarbinne vreet. Darem jammer ek het nie sy eerste terugkeer beter hanteer nie. Maar, die omstandighede in ag geneem, kan ek myself nie juis verkwalik nie.

Nogtans, daar was beter opsies as die byl.

Die afwesigheid van sy linkerhand pla my. Die vel en vleis staan grof en geskeur waar die arm by die gewrig ophou. Tipies van my stiefpa om sy hele hand af te kou as die duim genoeg sou wees.

Maar dit beteken ek sal iets meer drasties moet bedink. Ek het gereken die boeie was ’n oulike stukkie poëtiese geregtigheid. Wie sou kon dink Stiefpa het soveel deursettingsvermoë?

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou