Afrikaanse webwerf English website
martin steyn

woordfeesbundel 2017

’n Dun blou lyn

“As iemand hier probeer inkom, skiet ek almal dood. Álmal.”

Die stem kom hard en vinnig deur die oorfone. Die klem op die laaste woord dui op sy vrou en twee kinders, Lindie en Christiaan Junior. Die name staan op die groot vel papier oorkant adjudant Karla Blanckenberg. Ook hulle ouderdomme: ses en drie jaar. Twee witkoppies, volgens die beskrywing.

“Niemand gaan inkom nie, Christiaan.”

Blanckenberg hou haar stem rustig, in toon sowel as tempo. Die polisietaakmag het die straat afgesper en hou die huis dop. Hulle werk aan ’n plan vir ingeval hulle takties moet optree.

“Nou wat maak julle dan hier? Gaan weg.”

“Ons kan nie weggaan voor ons nie seker is almal is veilig nie.” Sy hoor deur die oorfone ’n kind op die agtergrond huil.

“Dit het niks met julle te doen nie.”

Dis donker buite die blou gordyntjies wat toegetrek is voor die ruite van die Mercedes Sprinter se agterdeure. Sy sit op die bank, agter die tafelblad wat in die lengte van die voertuig af loop. Regs van haar staan die tas met die kommunikasietoerusting in die gat wat daarvoor uitgesny is. Die draad van haar oorfone kom uit die sok gemerk PRIM, vir primêre onderhandelaar. Nog ’n draad kom uit die sok langsaan, vir die sekondêre onderhandelaar, adjudant Jochemus Ruhling.

Hy sit oorkant haar en beduie met sy hand sy moet voortgaan.

“Jy klink kwaad, Christiaan,” sê sy. “Vertel my wat gebeur het.”

“Ek wil nie met jou praat nie. Gaan weg.”

Maar sy hoor sy asemhaling deur die oorfone. Die kind huil nog steeds, dieselfde herhalende klank op een noot. Hoekom troos die ma nie? Het hy haar aangerand?

Heloïse Steenkamp het om 21:47 ’n vriendin gebel en gesê sy het haarself in die badkamer toegesluit, Christiaan het haar met sy dienspistool gedreig, hy het die kinders, bel die polisie. Die vriendin het teruggebel, tevergeefs. Volgens die bure was daar geen skote nie.

“Is dit Christiaan Junior wat ek hoor?” vra Blanckenberg.

“Ja.”

“Hy klink bang.”

“Hy sal oukei wees. Dis als . . .”

“Dis als?”

“Dis nie ek wat als wil breek nie.”

Die foon gaan dood.

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou