Wil jy my nuusbrief per e-pos ontvang? Teken hier in.

Klik hier as jy nie meer my nuusbrief wil ontvang nie. Dit sal natuurlik ’n stukkie van my doodmaak, maar as jy regtig voel jy moet, sal ek seker maar op ’n manier sonder jou moet aangaan. En vasklou aan die hoop dat jy weer eendag sal terugkom ;)

nuusbrief
Facebook YouTube

Volg die donker spoor

Hallo, en welkom by my nuusbrief.

Die groot dag is hier—Donker Spoor is NOU beskikbaar by boekwinkels landwyd en aanlyn!

In die vorige nuusbrief het ek jou voorgestel aan die hoofkarakter, adjudant Jan Magson, en ook ’n paar van die ander belangrike karakters. As jy dit misgeloop het, kan jy dit hier lees.

In hierdie nuusbrief gaan ek stilbly en eerder net Donker Spoor by die eerste hoofstuk oopmaak.

9 Maart 2014. Sondag.

“Nog ’n Sondagmiddagete saam met die gesin opgeoffer vir bloed en maaiers,” sê adjudant Colin Menck langs hom. “Ons het darem maar ’n lekker job, hè, Mags?”

Agter die stuur reageer adjudant Jan Magson nie. Hy volg net die langsame kronkeling van die Vissershok-pad uit Durbanville op soek na die moordtoneel.

“Casey het ’n hele campaign begin om ’n perd te kry vir haar verjaardag. Volgende jaar, wanneer sy tien word. Want dis ’n spesiale verjaardag.”

Magson kyk vlugtig na die perde wat teen die houtheining uit die kamp staan en kyk. ’n Entjie verder, aan die ander kant van die pad, is ’n bordjie wat die afdraai na die Meerendal-wynlandgoed aandui. Verder is dit net groen druiwestokke wat heeltemal te helder lyk. Hy is nie lus vir ’n nuwe dossier nie.

“So ek praat al weer met myself vandag.”

Partykeer is Menck soos ’n kind wie se mond heeltyd moet oop- en toegaan.

“Ek het sleg geslaap,” sê Magson.

“Ek vra nie baie nie. ‘Ja’. ‘O’. Selfs ’n grunt sal doen.”

Magson kyk in die truspieëltjie. Die pad is leeg, maar hy kyk ’n rukkie langer. Die Corolla se stowwerige spieëltjie maak sy oë nog ’n valer groen. Lyne op sy voorkop. Krake om sy oë. Hare trek al hoe meer terug bokant die slape. Snor is ook al meer grys as bruin.

Hy kyk weg.

’n Ent verder staan twee klagtebakkies en ’n paar ongemerkte voertuie langs die pad. Geen huise in die ligbruin omgewing nie. Magson hou stil en skakel die enjin af. Hy en Menck klim uit. ’n Uniformbeampte kom hulle tegemoet. Hulle wys hulle identifikasiekaarte.

Die uniform knik. “Adjudante. Sy lê ’n hele ent in.” Hy beduie met al vyf vingers reguit.

“Was jy eerste op die toneel?” vra Menck.

“Ja, Adjudant.”

“Wie het haar gekry?”

“’n Voëlkyker.”

“Is hy nog hier?” vra Magson.

“Dit was ’n vrou, Adjudant,” sê die uniform en kyk nou na hom. “Ek het haar gehou tot die eerste speurder ’n verklaring afgeneem het. Hy het haar laat gaan toe hy klaar was. Ek het haar details.”

“Dis goed. Is kaptein Kritzinger by die liggaam?”

“Ja, Adjudant.” Hy haal sy blou pet af en krap die klam kroese met die vingers van dieselfde hand.

“Orraait. Vat ons na hom toe.”

“Wag,” sê Menck, “ek kry gou jou borslappie.”

“Solank jy weet jy gaan die ding heeltyd moet vashou,” brom Magson. “Want ek gaan dit nie aantrek in hierdie hitte nie.” Die temperatuur is net ’n deel van die rede—wat Menck natuurlik goed weet. Magson haat die simpel toneelbaadjies. En daar staan in elk geval CRIME SCENE INVESTIGATOR op die speurders s’n.

“Dit bring jou oë uit, man,” sê Menck met ’n glimlag wat sy tande wys.

“My oë is groen.”

Hulle loop tot by die doringdraadheining wat die pad al langs die skouer volg. Magson sien geen tekens van roes of verwaarlosing nie, maar hier waar die voertuie staan, lê vier van die houtpale plat.

“Ek neem aan dit was so?”

“Ja,” sê die uniformbeampte.

Hulle volg hom deur die opening. Geen motorspore nie. En die gaping is te klein vir ’n voertuig om deur te kom. Het die slagoffer geloop? Of is sy gedra?

Die heuwelagtige omgewing lyk alles dieselfde; bruin en dood soos die lang gras wat in die loop teen sy grys broekspype ruis. Behalwe vir ’n kronkeling riete wat waarskynlik ’n stroompie volg. In die verte is daar ’n paar bloekombome. Die lug is droog en die reuk laat hom aan rissies dink, die vlokkies waaraan Menck hom altyd laat ruik. Sweet kriewel in sy nek af en hy wonder hoe ver die liggaam nog is.

Hulle kom oor ’n heuwel en Magson sien die mense. Lede van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum het al die toneel begin dokumenteer. Kaptein Henz Kritzinger is in gesprek met ’n groepie mense, waarvan een die forensiese patoloog is; sy staan uit soos ’n kinderpleister in haar wit oorpak en die helderoranje moulose baadjie waarop daar FORENSIC PATHOLOGY SERVICES staan.

Kaptein Kritzinger trek sy gesig. “Doen maar wat julle kan.”

Die PKRS-lid knik en loop weg.

“Kaptein,” groet Magson.

“Die dokter dink ons het ’n probleem.”

“Dis altyd asof daar ’n lig
in ’n ouer uitgedoof word
wanneer ’n kind vermoor word.”

Dankie dat jy gelees het. As jy kommentaar het, laat my weet.

m.s.

Lus vir nog? Lees hier verder.

Donker Spoor

NOU BESKIKBAAR