Wil jy my nuusbrief per e-pos ontvang? Teken hier in.

Klik hier as jy nie meer my nuusbrief wil ontvang nie. Dit sal natuurlik ’n stukkie van my doodmaak, maar as jy regtig voel jy moet, sal ek seker maar op ’n manier sonder jou moet aangaan. En vasklou aan die hoop dat jy weer eendag sal terugkom ;)

nuusbrief
Facebook Twitter YouTube

Die jaar wat was

Hallo, en welkom by my laaste nuusbrief vir 2014.

Wel, dit was natuurlik ’n wonderlike jaar. Dis nog steeds onwerklik om by ’n boekwinkel in te stap en ’n boek met my naam op die omslag op die rak te sien … dit raak nie oud nie!

Dankie aan almal by LAPA, wat my droom waar gemaak het. Ek wil veral twee mense noem: Cecilia Britz, die bestuurder van die fiksie-afdeling, vir haar geloof in my storie, en Izak de Vries, vir al sy moeite om mense van Donker Spoor bewus te maak en om my deur die nuwe wêreld van boekbekendstellings en onderhoude te lei.

Dankie aan Wordsworth in Somerset Mall en Protea Boekwinkel in Stellenbosch dat ons bekendstellings daar kon hou. Dankie aan die radiostasies, koerante en webwerwe wat met my oor Donker Spoor wou praat.

En dankie aan almal wat Donker Spoor gelees het. Die pad tot hier was nie glad of maklik nie, maar dit was elke tree werd. Dankie aan elkeen wat die tyd geneem het om my te kontak, deur my webwerf of op Facebook. Dit maak elke keer my dag :)


Daar is ’n nuwe video op YouTube waar ek ’n gedeelte uit hoofstuk vier van Donker Spoor voorlees. As ek net ’n stem soos Lance Henriksen gehad het …

Ek is ook nou op Twitter, as dit die soort ding is wat jou interesseer.


My eerste gepubliseerde storie was ’n kortverhaal wat deur Corlia Fourie van rooi rose aanvaar is. Dit was nogal ’n groot oomblik. Die eerste stukkie is by hierdie nuusbrief ingesluit. Volg die skakel net daarna om die res te lees. (Die gebeure is grootliks dieselfde, maar ek het die storie heeltemal oorgeskryf.)

kira

Tamason.

Ek stoot die huisie se deur oop, die Knysna-meer se sagte kabbeling agter my. Die toegestane reuk tref my soos ’n beskuldiging. Die stof lê seker twee sentimeter dik en ek gewaar meer as een iets skarrel.

Ek is bly om terug te wees. Ek het nog altyd Tamason as “terug” gesien en die woonstel in Stellenbosch as “weg”, al bring ek my dae in die studentedorp deur. Dit laat my altyd weer heel voel.

Dis hoekom ek hierheen gevlug het.

Ek het Tamason by my ouers geërf. Van die begin af was daar ’n band tussen my en die huisie; dit was ek wat haar die naam gegee het, toe ek klein was. Ons het op die stoepie gesit en my ma het vir my die sonsondergang gewys. Toe die rooi vingers, ’n vrou se vingers sonder twyfel, sysagte strepies deur die wolke trek, het ek een woord gesê: “Tamason”. Wat ek probeer sê het, was “tamatieson”, maar in daardie stadium was tamatie nog óf “matie” óf “tama”, na gelang van die sin, of my bui. En so is my liefdeshuisie gedoop.

Dit neem my die res van die middag om die huisie ordentlik skoon te maak, “van hoek tot kant” soos my ma so lief was om te sê. In die proses ontdek ek allerhande vieslike gediertes wat heerlik hier in die menseafwesigheid kom broei en muteer het en almal word summier ge-Baygon en uitgemoor; ek het geen gewete as dit by insekte kom nie.

Met die stof en lyke verwyder en my lugweë skoon genies, gaan sit ek met ’n Castle op die ou swaaibank op die stoep. Ek kyk uit oor die water. Die kabbels lyk so kalm, maar die oppervlak is ’n donker sluier.

Ek pak ’n vuur aan en braai ’n hele pak wors. Teen die tyd dat dit reg is, staan daar nog drie leë bierblikkies langs die braaiplek. Ek eet helfte van die wors saam met ’n rolletjie en gaan sit weer op die swaaibank, my tweede laaste Castle in die hand.

Ek word bewus van hande. Sagte hande, vrouehande, wat versigtig aan my voorkop raak. Ek maak my oë oop, deurmekaar en gedisoriënteer, en skrik.

Maar sy is al vyf tree weg. Haar oë is groot en donker soos die meer, haar wange dofwit en glad in die gaslamp se lig, haar mond effens oop. Donker hare hang tot op haar skouers. Sy het ’n los wit rok aan, iets wat amper soos ’n laken om haar liggaam vou, en haar kaal voete is teen mekaar. Sy hou haar hande voor haar.

Ek maak my mond oop om iets te sê, maar sy is reeds weg.

Net weg. Soos ’n druppel reën op die meer.

Ek vryf oor my gesig en wonder of ek wakker is. Ek voel nog haar koel vingerpunte teen my vel.

Ek staan op en trap my leë bierblikkie langs die swaaibank raak, verloor my balans en ploeg neer.

Dis een manier om seker te maak ek is wakker. Ek bly op die plankstoep lê en wonder oor haar. Was sy regtig? Of was dit net ’n droom?

Klik hier om verder te lees.


Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2015. Wees veilig.

m.s.

Die kommentaarboksie is hier.

Donker Spoor

NOU BESKIKBAAR