Wil jy my nuusbrief per e-pos ontvang? Teken hier in.

Klik hier as jy nie meer my nuusbrief wil ontvang nie. Dit sal natuurlik ’n stukkie van my doodmaak, maar as jy regtig voel jy moet, sal ek seker maar op ’n manier sonder jou moet aangaan. En vasklou aan die hoop dat jy weer eendag sal terugkom ;)

nuusbrief
Facebook Twitter YouTube

Letters in bloed (en Boektoer!)

Hallo, en welkom by my nuusbrief.

Danksy lesers se wonderlike ondersteuning het Donker Spoor genoeg opslae gemaak sodat Skuldig ook ’n paar bekendstellings in Pretoria en Modimolle gaan hĂȘ. As jy in hierdie geweste is, kom woon asseblief een van die geleenthede op 23 en 24 April by. Meer besonderhede onderaan die nuusbrief. Omdat daar verversings bedien sal word, is dit belangrik om voor die tyd te bespreek.

Ek hou daarvan om my stories op die misdaadtoneel te begin. Hier is die eerste paar bladsye van Skuldig, met ’n lyk en letters in bloed:

12 Februarie 2015. Donderdag.

Die man lê op sy maag, sy bene effens gebuig, sy kop na links gedraai. Sy linkerarm lê oor sy kruis, sy regterarm langs sy sy. Hy het ’n ligbruin broek aan, donkerder bruin leerskoene en ’n blou hemp. Sy hare is donker, met meer grys as in sy netjiese baard. Die gat in sy voorkop is meer na links, klein en netjies. Rooi strepe loop af tot in die bloedpoel wat in die mat se vesels dik en taai geword het. Sy linkeroog is halfoop, die ander een is verberg in die bloed. Die lug ruik soos koper, en iets chemies—serebrospinale vog.

Adjudant Colin Menck kyk in die rondte. Dis ’n gesinskamer. Donkerbruin leerbanke, redelike groot televisieskerm, DStv-dekodeerder en tuisteaterstel, ingeboude kaggel met ’n reghoek teëls daarvoor, Car Magazine op die koffietafel. Daar is geen teken van ’n struweling nie. Selfs die tydskrif is netjies op die tafel gesit, by die hoek, ewe ver van die twee rande af. Daar is ook geen teken van gedwonge toegang nie. Die enigste bewys van geweld is die liggaam op die mat.

En die bloed.

Menck kyk weer na die man se oop oog. Hoekom het hy nie baklei nie?

“Doppie is nie hier nie.” Die toneeldeskundige van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum staan van sy knieë af op. Hy het ’n blou papieragtige oorpak aan, ligblou papiersokkies oor sy skoene en donkerder blou latekshandskoene. “Rewolwer?”

Menck het net handskoene en ’n paar “sokkies” aan. “Of hy het dit opgetel.” Die toneel het ’n professionele gevoel.

“Gaatjie is so eight and a half, anyway. So dis ’n thirty-eight, three-fifty-seven. Of ’n nine-mil as hy agter hom skoongemaak het.”

“As enigiets gesteel is, is dit nie die obvious goed nie.” Menck kyk om na adjudant Derek Winters, wat met sy arms gevou staan en sy skerp ken in die rigting van die elektroniese toestelle lig.

Menck skud sy kop. “Diefstal was nie die motief nie.”

“Nee, seker nie.” Winters kom nader en kyk na die roomkleurige muur langs die slagoffer.

Soos gewoonlik het hy getrou sy blou CRIME SCENE INVESTIGATOR-toneelbaadjie aangetrek. Menck het vroeg al opgelet Winters is nogal lief vir al die polisieparafernalia.

Dokter Sinette Killian kom die vertrek binne, toneelkissie in die hand. Sy dra ’n oorpak soortgelyk aan dié van die PKRS-deskundige maar wit, haar bruin hare in die wit kappie ingebondel, roomkleurige latekshandskoene en ’n helderoranje toneelbaadjie met FORENSIC PATHOLOGY SERVICES agterop.

Hoe meer deskundiges in hulle korrekte drag op ’n misdaadtoneel verskyn, hoe meer begin dit lyk soos ’n Kersboom wat deur kinders versier is. Hulle kort nog net die kaptein met sy rooi baadjie.

Dokter Killian kyk met opgetrekte wenkbroue na die muur. “Wat het ons hier?”

“Hoekom is dit dat iemand altyd moet doodgaan voor ons jou sien, Dok?”

Sy haal haar skouers op. “Dis al wanneer julle my nooi.”

Menck druk sy lippe teenmekaar en skud sy kop. “Wanneer het óns al ooit vir ’n uitnodiging gewag?”

“Nooit. Maar julle kom net wanneer julle iets wil hê.”

Menck laat sy mond oopval. “Dit sny diep, Dok. Diep.”

Die patoloog lag gedemp, kyk weer na die muur en sak op een knie langs die liggaam neer. “Een inskietwond in die voorkop. Bietjie tatoeëring rondom.”

“Skieter het teruggestaan. Wou nie hê die bloed moet op hom spat nie.”

Sy kyk na die agterkant van die man se kop. “Geen uitskietwond nie.”

“Lyk of die kopwond die enigste skoot was, Dok. Niks in die mure of meubels nie. Netjies.”

Dokter Killian knik. “Hierdie bloed op sy broek,” net onder die kuite, “lyk soos spatsels. Hemp is ingesteek.” Sy lig die man se linkerhand op, bestudeer die vingers en die gewrig. “Geen defensiewe tekens nie.” Daar is ’n diep sny in die regterhand dwarsoor die palm. Bloed is oor sy vingers gesmeer en het ook donkerpers in die hempsmou ingesyfer. “Enkele, skoon snit. Doelbewus gesny.”

“Enige moontlikheid dat hy dit self gedoen het?” vra Menck. “Die vrou kon die vuurwapen en die mes gevat het.”

“Dis nie ’n tipiese skoot vir selfmoord nie. Maar ek kan nie in hierdie stadium sê dis onmoontlik nie. Dit voel egter nie soos selfmoord nie.”

“Nee.”

“Wil jy sy hande toets voor ek dit toemaak?”

Menck knik en roep die PKRS-deskundige nader. “Sal jy vir ons kom toets vir primer residue, asseblief?”

“Ek’s ’n djin in ’n bottel,” sê die deskundige.

“Gin?” vra Menck. “Wat de hel het gin met enigiets te doen? Moenie vir my sê jy drink op die job nie.”

“Djin soos in genie. Aladdin.”

“O. Nou vir wat sê jy nie net so nie, man?”

“Cause why, my dogtertjie is mal oor Arabian Nights, en ‘djin’ is die regte woord.”

“O,” sê Menck weer. Wat mens ook nie alles in die lewe leer as gevolg van jou kinders nie. “Kom genies … djins … nie in lampe nie?”

“Nie op die Flats nie.”

“Ook nie in Christina Aguilera-liedjies nie,” voeg Winters by.

“Wel,” sê Menck, “solank jy net verstaan ek gaan jou nie op ’n snaakse plek vryf nie.”

Die deskundige lag en druk met sy taai stokkies op die dooie man se hande, veral tussen die duim en wysvinger. Vir ontleding moet dit natuurlik al die pad Pretoria toe gaan; Menck sal gelukkig wees as hy die uitslag binne ses weke kry.

“Luister, djin, sal jy saamkom wanneer ek met die vrou gaan praat en haar hande ook toets? En julle sal deur hierdie hele huis gaan en soek vir daardie wapens, nè?”

“Ons sal môre in die dag kom en deeglik deur alles gaan.” Die deskundige glimlag breed. “As ek dit nie mis het nie, was dit mos nou jou three wishes.”

“Ag, hoe’s jou hart, man? Ek het niks eens vir myself gevra nie.”

Dokter Killian skuif ’n bruin papiersak bo-oor elke hand en sit ’n rekkie om die polse om dit toe te hou.

Sy kyk op. “Kan ons hom omdraai?”

Hulle rol die man op sy rug. Die bloed waarin hy gelê het, klou soos stroop aan die regterkant van sy gesig.

“Al sy knope is aan en vasgemaak,” sê dokter Killian. “Ek sien geen ander koeëlwonde nie.” Sy haal ’n skalpel uit en maak ’n snytjie in die man se regtersy. Een termometer onder sy lewer; ’n tweede een meet die omgewingstemperatuur.

Daar is ’n bloedvlek op die man se broek, sien Menck, op die regtersak. Handpalm. Ligte vingers. Nadat hy teen die muur geskryf het?

Want dis duidelik hy het sy hand gebruik om die sewe oneweredige letters, donkerrooi teen die roomkleurige muur, te skryf: SKULDIG.

As jy klaar Skuldig gelees het—dankie :D—het ek darem nog ietsie om aan te bied, danksy Naomi Meyer van LitNet. Sy het 10 vrae oor Skuldig. Klik hier vir my antwoorde.

Dankie dat jy gelees het.

m.s.

So wat het die slagoffer se vrou te sê? Die res van hoofstuk 1 is hier.


Die kommentaarboksie is hier.

Skuldig

NOU BESKIKBAAR