Nuusbrief 2018|03

Losprys Houtbaai

“Ek wil graag help.”

Hallo, en welkom by my nuusbrief.

In die vorige nuusbrief het ek oor my nuwe speurder, adjudant-offisier Enzo Ariefdien, gepraat. Maar daar is ’n ander polisie-eenheid wat selfs meer intiem by die saak betrek word.

Adjudant-offisier Karla Blanckenberg is normaalweg ’n mediabeampte. Tensy sy as lid van die Gyselaaronderhandelingseenheid geaktiveer word om ’n selfmoordpoging, ’n gebarrikeerde persoon of ’n gyselaarsituasie te probeer ontlont.

“Daar is altyd ’n oplossing. Saam kan ons daardie oplossing kry.”

Die onderhandelaars trek by die gesin in, met Blanckenberg die primêre onderhandelaar—die een wat met die ontvoerder praat. Gewoonlik kordoneer die Spesiale Taakmag die toneel af en die enigste uitweg vir die persoon aan die binnekant is om met die onderhandelaar te praat, veral wanneer daar nie toegang tot basiese behoeftes soos kos is nie. Maar in hierdie geval beweeg die ontvoerder/ontvoerders rond en bel wanneer hy/hulle so voel, en as die foon doodgaan, bly dit dood.

Losprys voorblad

Die primêre onderhandelaar onderhandel; die sekondêre onderhandelaar skakel met inligting wat van buite af kom, help om strategieë uit te werk en bied ook morele ondersteuning aan die primêre onderhandelaar. Adjudant-offisier Jochemus (Jock) Ruhling sit saam met Blanckenberg in die NOC, die Negotiation Operational Centre.

“Dis net ’n negotiator wat kan praat van vordering nadat iemand ’n foon in jou oor neergedonner het.”

Blanckenberg besef te laat dat dit ’n kind is vir wie se lewe sy moet onderhandel, en dit krap nie net vars wonde oop nie, maar oues ook.

Lees meer oor Blanckenberg en Ruhling, asook hulle koördineerder, kaptein Imran Correia—en Ariefdien, Zaphalala en Lubambo van EGM—op my webwerf.

Dankie dat jy gelees het.

m.s.

Losprys Oktober 2018

Wil jy my nuusbrief per e-pos ontvang? Teken in.

Wil jy nie meer my nuusbrief ontvang nie? Teken dan maar uit. Dit sal natuurlik ’n stukkie van my doodmaak, maar as jy regtig voel jy moet, sal ek seker maar op ’n manier sonder jou moet aangaan. En vasklou aan die hoop dat jy weer eendag sal terugkom …