Die wêreld is nie meer ’n goeie plek nie.
Dis maar net hoe dit is.

Losprys

Losprys
Losprys verteenwoordig ’n nuwe
hoogtepunt in die skrywer se ouvre.”
Jonathan Amid
“Realisties, eerlik, puik storielyne
en uitstekende navorsing.”
Ilse Salzwedel
Border

Die wêreld is nie meer ’n goeie plek nie.
Dis maar net hoe dit is.

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Maar dis presies wat hy kry en dis boonop ’n ontvoering vir ’n losprys. ’n Hoëprofielsaak met die desperate Amerikaanse ouers aan die een kant en die ambisieuse kaptein Lubambo aan die ander. En almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak—en te verbreek—kan sy net wag en dis dan wanneer die handjie met die rooi gaatjie haar bly teister.

Die ontvoerders het duidelik die gesin se roetine geken. Maar is die gesin van buite dopgehou? Of van binne? En hoekom klink dit asof daar iets meer persoonliks agter die ontvoering skuil?

“Martin Steyn se vierde en indrukwekkendste roman tref jou soos ’n trosbom. Wanneer presies sal van leser tot leser verskil, maar daar is verskeie geleenthede wat ’n mens eenvoudig laat steier.”
Jonathan Amid
Rapport
“Met elke boek groei sy karakters. Volronde, geloofwaardige mense.”
Ronel Nel
rooi rose
“Die boek volg sy eie pas, en verskil in toon effe van sy vorige boeke, maar dit is die karakters en hul dialoog wat jou bybly en vasgeklou hou.”
Ronel Nel
Die Burger
Window

Karakters

“Wat ek wil hê, is moordslagoffers. Dooie victims. Dis nie asof dit moeilik is om van hulle in ons land te kry nie.”
ADJUDANT-OFFISIER ENZO ARIEFDIEN het in Mitchells Plain grootgeword waar hy steeds bly. In sy laaste hoërskooljare, toe die Stasiemoordenaar se slagoffers opgestapel het, het hy besluit om ’n moordspeurder te word. Hy is van die begin af ongelukkig daaroor om by ’n saak van menseroof ingesleep te word. Hy is getroud met Jemaima en het ’n tienerdogter, Roshaan.

“Ek is ’n onderhandelaar by die polisie. Ek wil graag help om die situasie op te los.”
ADJUDANT-OFFISIER KARLA BLANCKENBERG is ’n mediabeampte totdat sy as lid van die Gyselaaronderhandelingseenheid geaktiveer word. Met hierdie saak bevind sy haarself in die rol van primêre onderhandelaar—die een wat met die ontvoerder praat. Dat dit ’n kind is vir wie sy moet onderhandel, krap beide vars en ou wonde oop.

“Jy het ’n kans vir ’n regte gelukkige einde. Maar al wat jy wil hê, is die dood.”
SERSANT FIKISWE ZAPHALALA is nog redelik nuut by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid. Haar ondersoekwerk het aandag by haar stasie getrek en sy is genader om na EGM oorgeplaas te word. Sy weet haar velkleur en geslag was die hoofredes, maar sy weet ook sy verdien om daar te wees.

“Dis net ’n negotiator wat kan praat van vordering nadat iemand ’n foon in jou oor neergedonner het.”
ADJUDANT-OFFISIER JOCHEMUS RUHLING, gewoonlik ’n toneeldeskundige by die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum, sit langs Blanckenberg as die sekondêre onderhandelaar. Soos ’n haai moet hy aan die gang bly, en wanneer die wag te lank raak, vou hy soms insekte uit papier.

“Ek wil hê jy moet ophou om met hom te speel. Ek wil hê jy moet hom breek.”
KAPTEIN FUNDILE LUBAMBO is een van vier groepleiers by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis. Gesteld op sy voorkoms en met ’n liefde vir die kalklig, is Lubambo altyd opgewonde oor ’n hoëprofielsaak. Want dis die stene waarmee hy sy pad tot in die bevelvoerder se kantoor lê. Solank as wat sy speurders dit suksesvol oplos.

“Hulle kry nie hulle kind terug nie. Hulle kry ’n lyk in die veld.”
KAPTEIN IMRAN CORREIA is ’n koördineerder by die Gyselaaronderhandelingseenheid. Hy kry die span bymekaar om die onderhandelings met die ontvoerders te hanteer. Alhoewel hy ’n kind van die Kaapse Vlakte is, kom sy Portugese bloed in sy woordeskat uit wanneer dinge nie heeltemal vlot nie.

Uittreksel

29 Augustus 2017. Dinsdag.

“Weet jy wat is ’n trosbom, Zap?” Adjudant Enzo Ariefdien kyk na die wit bordjie: WELCOME TO REPUBLIC OF HOUT BAY, en stuur die Nissan Tiida om die slap draai na regs.

Uit die hoek van sy oog sien hy die beweging van sersant Fikiswa Zaphalala se kop. “Nee.”

Gewoonlik ontmoet sy Afrikaans en haar Engels mekaar heel gemoedelik in die middel, maar nie altyd nie. “’n Cluster bomb.”

“Nog steeds nee.”

“Dis ’n groot bom vol van ’n klomp kleiner bommetjies. Soos wat dit nou val, maak dit in die lug oop en skiet al hierdie bommetjies uit. Gewoonlik ontplof dit ’n entjie bokant die grond sodat dit so ’n scattereffek van verwoesting veroorsaak.”

Die pad kronkel skouerloos tussen die bome deur. Dis nogal woudagtig. Ariefdien herken dennebome en bloekoms tussen die ander onbekendes. Twee wit skoenlappers dwarrel om mekaar langs die pad, want dis mos amper lente, al lyk dit nie so met die grys lug en saamgepakte wolke nie.

“As jy nou daai prentjie in jou kop vat, en jy maak elkeen van daai bommetjies vol met stront, en jy laat dit oor ons twee se koppe ontplof, dan het jy die situasie waantoe ek en jy nou op pad is.”

Mure begin aan die regterkant, stene, hout, later aan die linkerkant ook soos wat hulle Houtbaai binnegaan. Een muur lyk soos ’n huis met vensters, ’n deur en selfs ’n gewel, maar daar is geen dak of ander mure nie. Die bome bly geil, al is heelparty grys en kaal. Rankplante neem verskeie van die stamme in, die hartvormige blare blink en welig.

“So die man wat gebel het, het geen eise gestel nie,” sê Zaphalala, “maar dit moet oor geld gaan. Anders, hoekom bel om te sê hy het die seun?”

“Ja. Nie dat kidnap for ransom juis groot in onse land is nie.”

“Het jy al ’n ontvoering vir ’n losprys ondersoek?”

“Daar was ene waarby ek betrokke was. Seker so vyf jaar terug. Vrou wat ontvoer is. Maar dit was amateurs, man. Hulle het die idee uit ’n movie gekry.” Hy gee ’n eennootlaggie deur sy neus en skud sy kop. “Gedink, maar dís nou ’n maklike manier om geld te maak. Nou sit hulle in die tronk. Dit begin dalk opsteek, want daarso was nou al ’n paar ryk Moslem-sakemanne ontvoer. Maar dis hoofsaaklik mos maar die donnerse Nigeriërs wat mekaar ontvoer omdat die een vir die ander ene geld skuld.”

“Ja, Nigeriërs is net geïnteresseerd in geld. Suid-Afrikaners verkies om te ontvoer vir verkragting en moord.”

Ariefdien ry om die sirkel by die polisiestasie. Langs die sportveld staan ’n plaat wit hokkies; dit lyk soos vraghouers.

“Ek verkies ook moord.”

Zaphalala kyk na hom.

“Met ’n moordslagoffer is jou fokus net om die moordenaar te kry. Nou is dit jou verantwoordelikheid om ’n kind terug te kry.”

Aan die oorkant van die dorp draai hy regs en hulle klim vinnig hoër teen die pas uit. Oor die kruin strek die Atlantiese Oseaan tot op die horison, stil en grys.

“Met ’n ontvoering vir ’n losprys is daar ten minste kontak met die ontvoerders,” sê Zaphalala.

Miskien. Maar hy het geen begeerte om ’n kind se lewe in sy twee hande vas te hou nie.

By die verkeerslig draai hy links na Llandudno. Die see sit nou aan sy regterkant. Voor hom styg ’n skerp koppie met ’n punt wat soos ’n opgewonde tepel lyk. Rotse lê soos ligte grys sproete teen die groen helling. Maar dis die houthuisie aan die linkerkant van die pad wat sy aandag trek.

“Sekuriteitskameras,” sê Zaphalala.

Die kameras sit teen die kant van die huisie en behoort elke voertuig wat in- en uitry af te neem. ’n Blou vierkantige teken sê MONITORED AND PATROLLED BY ADT SECURITY.

“Is dit die enigste pad in en uit?”

“Ja.”

“Die kameras is nie versteek nie. Die ontvoerders moes daarvan geweet het.”

Ariefdien stoot sy bril hoër op sy neus. “En dit het vir hulle nie afgeskrik nie.” Wat hom al klaar laat dink aan ’n gesteelde voertuig met vals of gekloonde nommerplate. Dis die probleem met opvallende sekuriteit: Wanneer dit as afskrikmiddel werk, hou jy daarvan; wanneer dit faal, wens jy dit was versteek.

Die huise is teen die berg af gebou tot by die see daar ver onder. Die helling is so skuins dat net die mure en geplaveide opritte—tegnies “afritte”—aan sy regterkant sigbaar is, nie eens die dakke van die huise steek uit nie. Aan die ander kant verrys die strukture maklik tot drie verdiepings, net glas en balkonne. Op die draai staan twee rye “pionne” wag in ’n voortuin.

Anderkant die stopstraat luier ’n wit Peugeot Boxer langs die pad. ’n Paneelwa is natuurlik ideaal vir ’n professionele ontvoering. Die agterkant is heeltemal toe. En hulle het al verby twee ander voertuie gery wat iets met herstel- of installeerwerk te doen het. Dit sal nie juis aandag trek nie.

Die Tiida skommel oor ’n spoedwal wat met spierwit strepe geverf is. Breed en plat om nie die lae Duitse motors se buffers te skraap nie. Hy ry om ’n bakkie met C. C. L. FLOORING op die deur. Baie mense kom van buite af in.

Verskeie voertuie staan aan die einde van die doodloopstraat: ’n dubbelkajuitklagtebakkie, ZH26, en ’n paar ongemerkte sedans, een met die addisionele lugdraad van ’n polisiekar, die groepleier s’n.

Ariefdien hou ook teen die randsteen stil en hulle klim uit. Die lug is koel teen sy wange.

Die huis is aan die regterkant van die pad, ’n hoekige boog wat see toe swel, die mure die kleur van nat sand, die vensters donker. Die dak is gelyk met die straat. Tollende piramides flits op die hoeke.

’n Kamera sit soos ’n slakoog teen die motorhuis se muur en langsaan staan ’n uniform by ’n stel trappies wat daal.

Ariefdien fluit deur sy tande. “Shit, maar dit is vir jou ’n view, hè?” Die groen vloei soos verf teen die koppie met die tepel af, raak op waar die gladde ligbruin rotsvingers die see in wys. In die verte steek ’n stukkie wit sand uit en ’n berg rond dit af. Daar is oral berge hier, elke rigting waarin hy draai behalwe see toe.

Sy selfoon lui en hy antwoord. “Kaptein?”

“Adjudant Ariefdien, waar is jy?” Hy kan hoor kaptein Fundile Lubambo hou hom in, maar die Engels vibreer nogtans in Ariefdien se oor.

“Net hierso buite die huis, Kaptein.”

“Wat doen jy? Bewonder jy die uitsig?”

“Ons is op pad in.”

Zaphalala het alreeds haar identifikasiekaart vir die uniform gewys en halfpad met die trappe afgeloop.

Die foon gaan dood en Ariefdien volg Zaphalala. Die voordeur swaai oop en Lubambo staan daar in sy swart pak en sneeuwit hemp.

“Het jy vir ontbyt gestop, adjudant Ariefdien?” Lubambo se gedempte toon haal nie die skerp randjies uit sy woorde nie. “Die slagoffer is ontvoer, nie vermoor nie. Ons kan nie bekostig om tyd te mors nie.”

Ariefdien hou sy sug in. Hoëprofielsake is soos driedubbele espresso’s vir die groepleier. Al die aandag. En met hierdie een sal daar nog baie wees.

Die trosbom het oopgemaak. Hy kan al amper die gefluit hoor.

“Die seun se naam is Steven.” Lubambo kyk hom soos sy vrou hom kyk wanneer hy nie die eerste keer na haar geluister het nie. “Hy is vyftien. Hy is gistermiddag laas gesien. Daar was ’n groot soektog, die gesin, bure, ADT en die polisie. Vanoggend het ’n man gebel en gesê hy het die seun.”

Nie veel wat hulle nie alreeds geweet het nie. Vrae vorm in Ariefdien se kop, maar hy wil dit direk vir die gesin vra, nie tweedehandse antwoorde by Lubambo kry nie. Behalwe een: “Is die negotiators op pad?”

“Ja. Dit lyk asof hulle selfs stadiger as jy bestuur, adjudant Ariefdien.” Lubambo kyk hom op en af, ontwikkel ’n plooi tussen sy wenkbroue. “Kom. Die gesin is Amerikaans.”

Ariefdien kyk af na sy skoene, daar waar Lubambo se oë getalm het, die vaalgeskaafde punte van sy Mancini’s, een van drie pare wat hy twee, drie jaar terug op uitverkoping by ShoeCity gekoop het.

Hy volg die groepleier oor die grys gelamineerde houtvloer. Die versonke plafonligte weerkaats op Lubambo se kaalgeskeerde kop. En sy blinkswart leerskoene.

Daar is ’n geur in die huis wat Ariefdien laat dink aan die goed waarmee hulle die lykshuis skoonmaak.

Die mense is in die sitkamer, ’n ruim vertrek met vier lang wit banke, ’n koffietafel vol diepblou bekers, ’n groot ingeboude kaggel teen die korter muur en aan weerskante twee boompies met gevlegte stamme en fyn blare.

“Dis adjudant-offisier Ariefdien en sersant Zaphalala,” sê Lubambo. “Adjudant Ariefdien sal die ondersoekbeampte wees.”

Die man staan van die bank af op. Die silwer strepies in sy teruggekamde bruin hare glinster soos die lig dit uitsoek. Sy staalblou oë is dof maar direk. Hy steek sy hand uit en pomp Ariefdien s’n drie keer met ’n oordrewe greep.

“Meneer Gordon,” sê Lubambo, “Steven se pa.”

Mevrou Gordon is volgende. Sy kyk op met rooi oë. Haar hand is ferm maar koud. Die ander hou ’n goudkleurige selfoon in haar skoot vas.

“Richard Trafford,” stel die ander man, grys met ’n ronde metaalraambril, homself voor. “Van die Llandudno Security Committee.” Sy aksent is gekultiveerde Suid-Afrikaanse Engels.

Ariefdien gaan sit op die bank oorkant die Gordons. Zaphalala kom sit langs hom.

“Wil julle koffie hê? Kundai!” Die Amerikaanse aksent rek party van die klinkers uit.

“Nee, dankie, meneer Gordon.” Ariefdien haal sy notaboek en pen uit. “Kom ons praat eers. Wat is julle voorname?”

“Heath en Donna.”

Ariefdien skryf dit neer. “Wanneer laas het julle vir Steven gesien?”

“Gisteroggend aan die ontbyttafel,” sê Heath Gordon.

“Ek het hom gister ná skool gesien,” sê sy vrou, “toe ek hom sy middagete gegee het.”

“Hoe laat was dit?” vra Ariefdien.

“Omtrent drie-dertig.”

’n Jong vrou kom by die sitkamer in, haar lang hare in dun vlegsels met wit en swart krale aan die punte. “Ja, meneer Gordon?”

“Is julle seker julle wil nie koffie hê nie?” vra Heath Gordon.

“Oukei, sal lekker wees, dankie,” sê Ariefdien. Zaphalala skud haar kop.

“Een koffie, asseblief, Kundai.”

Die vrou knik en verdwyn weer.

“Hoe het Steven by die huis gekom?” vra Ariefdien.

“Ek het hom ná skool opgelaai,” sê Donna Gordon.

“Hoe was sy bui?”

“Normaal.”

“Wat het hy gedoen toe hy klaar geëet het?”

“Hy het na sy kamer toe gegaan.” Sy trek aan haar donkerblonde hare met haar linkerhand. “En toe het hy afgeloop na die rotse toe.”

“Hoe laat was dit?”

“Omtrent vieruur, skat ek.” Sy laat sak haar hand in haar skoot en kyk af na die selfoon se skerm.

“Watter rotse is dit?”

“Ek sal jou wys.” Donna Gordon staan op. “Jy kan dit van hier af sien.”

Die muur aan die seekant bestaan omtrent net uit massiewe vensters. Ariefdien volg haar by ’n skuifdeur uit tot op die balkon. Sy beduie oor die blink metaalreling na ’n klomp ligbruin rotse ver onder by die see.

“Ons het eers gedink hy het miskien ingeval. Veral omdat sy foon af was.”

“Het Steven gereeld na die rotse toe gegaan?” vra Zaphalala.

“Ja, hy het.”

“Wat het hy daar gedoen?”

“Net geloop. Gesit. Op sy iPad gespeel. Hy hou van die see.”

“Het jy hom gistermiddag op die rotse gesien, mevrou Gordon?” vra Ariefdien.

“Nee. Maar ek het nie gekyk nie. Eers toe dit begin laat word het.” Haar linkerhand klou die reling vas, die vel styf oor haar kneukels. Die een met die selfoon bewe. ’n Goue ring blink omtrent aan elke vinger.

“Hoe laat was dit?”

“Omtrent sesuur. Ek het vir hom ’n boodskap gestuur. Geen antwoord gekry nie. Gebel, maar dit het reguit stempos toe gegaan. Wat beteken het sy foon was af. Ek het hom gaan soek. ADT gekry om te help.” Sy haal rukkerig asem. “Dit het al begin donker raak en ons kon hom nie kry nie. Ek het van my kop af begin gaan. Ek het gedink hy het dalk gegly en van die rotse afgeval. Stevie is nie die soort kind wat net iewers heen sal gaan sonder om ons te laat weet nie. Toe sê die man van ADT ons moet die polisie bel. En hulle het dadelik gekom. Ek het gedink daar is ’n wagperiode.”

“Nee.”

“Dit was die langste nag van my lewe. Die polisieduikers het gekom, maar dis so donker hier, hulle kon nie … Daar is geen straatligte in Llandudno nie. Dit was so, so donker. Hulle het met flitse gesoek, maar … En toe bel daardie man vanoggend. Ek was eers so bly, want dit was Stevie se nommer. Ek was so verlig. Maar dit was nie Stevie nie.” Trane gly oor haar wange, eers stil, maar toe ruk dit deur haar bolyf. Sy maak ’n rou geluid en druk haar hand voor haar mond, krul vooroor en Ariefdien vat haar skouers om te keer dat sy dalk oor die reling val.

Heath Gordon kom haal sy vrou en neem haar terug na die bank toe.

Ariefdien en Zaphalala volg hulle binnetoe.

Heath Gordon se linkerarm is om sy vrou se skouers, die kneukels wit. Sy regterhand vryf die agterkant van sy nek. Hy sit regop.

“Verskoon my, asseblief.” Donna Gordon staan op en loop amper die skinkbord uit Kundai se hande terwyl sy om die bank swenk.

Ariefdien vat die beker toe Kundai voor hom buig. “Dankie.”

Langs hom verskuif Zaphalala effens. Kundai knik en gaan. Die beker is warm en Ariefdien sit dit eers neer.

Heath Gordon sit met sy hande in sy skoot, die vingers gevleg. Hy kyk bo-oor hulle koppe verby, ’n styfheid aan sy dun lippe.

“Wie bly almal hierso in die huis, meneer Gordon?” vra Ariefdien.

“Ek en Donna. Stevie. En my ander seun Kyle. En Kundai, wat ons huiswerk doen. Sy het ’n kamer onder.”

“Ander mense wat in die huis of op die erf kom?”

“Chifundo. Hy’s ons tuinier. Hy sorg ook vir die swembaddens en doen instandhoudingswerk aan die huis. Hy bly in Imizamo Yethu. En Kyle se meisie Raweena. Sy is van Houtbaai.”

“Bly julle permanent hierso?”

“Ja, ons is nou amper twee jaar hier.”

“En watse werk doen jy, meneer Gordon?”

“Ek is eintlik semi-afgetree. Ek het ’n tegnologiemaatskappy in die VSA gehad, van niks af opgebou. Paar jaar gelede het ek besluit om my aandele te verkoop en toe skuif ons hierheen. Maar ek doen ’n bietjie konsultasie in Kaapstad. Hoofsaaklik maar om besig te bly.”

“Is dit waar jy gister was?”

“Ja. Ek het ’n vergadering gehad. Lang middagete by Den Anker. Moontlike nuwe geleentheid.”

“Wanneer het jy by die huis gekom?”

“Omtrent kwart voor ses.”

“Kan jy aan enigiemand dink wat Steven sal ontvoer om jou by te kom?”

“Nee, ek kan nie.”

“Skuld jy iemand geld, meneer Gordon?”

“Nee. En ek waardeer nie die implikasie nie. Hierdie ding gaan nie oor my nie. Dis gedoen deur mense wat dink hulle kan maklike geld maak deur my kind te gryp.”

“Ons moet hierdie vrae vra, meneer Gordon,” sê Lubambo. “Hoe meer ons weet, hoe beter kan ons ons werk doen om Steven terug te kry.”

Donna Gordon kom terug en gaan sit langs haar man, maar daar is ’n gaping tussen hulle, genoeg dat Ariefdien sy nommer-neges in die lengte sou kon inpas. Haar vingers klou steeds die goue selfoon vas.

“Mevrou Gordon,” sê Ariefdien, “wat presies het die man gesê toe hy vanoggend gebel het?”

“Hy het gesê: ‘Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.’ En toe sit hy neer. Ek het nie kans gekry om enigiets te sê nie.”

“Hy het jou nie met Steven laat praat nie?”

“Nee. Ek het teruggebel. My man het teruggebel. Ons het gebel en gebel, maar Stevie se foon is af.”

“En dis al wat die man gesê het?” Ariefdien lees haar woorde hardop uit sy notaboek.

“Ja, dis al wat hy gesê het.”

“Het jy die stem …”

Die foon lui en sy ruk, kyk met wit oë af na die skerm. Sy druk die oproep dood en haar oë ’n oomblik lank toe. “Dis net ’n vriendin.”

Ariefdien knik. “Het jy die man se stem herken, mevrou Gordon?”

“Nee.”

“Hy het net Engels gepraat?”

“Ja. Adjudant, hy het gesê die polisie moenie betrokke raak nie. Maar dit was toe al te laat. En ek was onder by die rotse toe hy gebel het, die duikers dopgehou. Ek het reg langs hulle kaptein gestaan. Ek het geskree: ‘Dis hy! Dis Stevie!’ toe ek antwoord. Ek kon dit nie vir hom wegsteek nie.”

“Mevrou Gordon, dis die beste ding om die polisie betrokke te hê. Jy wil nie hierdie ding alleen probeer hanteer nie.”

“Maar sê nou hy weet julle is betrokke? Sê nou hy weet julle is nou hier en ons praat met julle? Daar is ’n gemerkte voertuig reg voor die huis!” Haar vel lyk baie dun en bleek oor haar wangbene, haar groen oë groot, en beide hande het nou die foon in ’n greep in haar skoot.

“Hierdie man wil iets hê. Dis hoekom hy vir Steven gevat het. Dis hoekom hy gebel het.”

“Wat wil hy hê?”

“Hy wil geld hê, Donna,” sê haar man. “Geld.”

“Mevrou Gordon.” Ariefdien wag vir haar oë. “Het Stevie iets gesê oor iemand wat hom dophou, of enigiets vreemds?”

“Nee. Dit het heeltemal van nêrens af gekom.”

“Wat kan jy ons oor Steven vertel?” vra Zaphalala. “Hoe is sy persoonlikheid?”

“Hy is baie slim. A-student. Maar hy is teruggetrokke.”

“Hy hou daarvan om meer te dink, dis al,” sê Heath Gordon. “Die seun storm nie net in nie.”

Zaphalala kyk na hom en knik. “Dis goed. Hoe hanteer hy stres?”

“Hy hanteer dit.”

“Sal hy kalm bly in hierdie soort situasie?”

“Ek weet nie! Hy was nog nooit in hierdie soort situasie nie.”

Donna Gordon reageer met ’n kreungeluid op haar man se woorde en slaan haar arms om haar lyf.

“Die kamera by die motorhuis,” sê Ariefdien.

“Dis gekoppel aan die draadlose CCTV-netwerk,” sê Heath Gordon. “Dis die Llandudno Security Committee se inisiatief. Sekuriteit is veronderstel om baie goed hier te wees, ek verstaan nie hoe mense net hier kan inkom en my seun van die straat af gryp nie!”

“Heath,” sê die man van die sekuriteitskomitee.

“Nee, Richard! Ja, hulle patrolleer, hulle het kameras, hulle het die waghuisie, maar Stevie is reg onder hulle neuse gevat. Waarvoor de hel betaal ek hulle?”

Richard Trafford maak sy mond oop, maar Ariefdien spring hom voor: “In watse skool is Stevie?”

“Die Houtbaai Internasionale Skool.”

“Ons sal graag ’n lys van sy vriende wil hê, asseblief, name en kontaknommers.”

“Ons het dit alreeds gisteraand vir die ander polisie gegee. Koördineer julle mense nie julle inligting nie?”

“Dan sal ek dit maar daar kry. Dankie, meneer en mevrou Gordon. Ons sal graag met Kyle ook wil praat. Is hy hier?”

“Nee,” sê Donna Gordon. “Hy is by die koffiewinkel.”

“Watter een?”

“This is Coffee, in Houtbaai. Dis Kyle se baba.”

“This is Coffee. Kan ons ’n foto van Stevie kry, asseblief?”

“Natuurlik.” Sy staan op.

Ariefdien gebruik die oomblik om sy beker op te tel. Die koffie lyk dikkerig en teen hierdie tyd is dit skaars lou, maar dis lekker sterk. Net jammer dis ook bitter. Heath Gordon hou hom dop asof hy warm hondemis die huis ingetrap het.

Dis nie lank voor Donna Gordon terugkeer nie, en hy sluk gou die laaste koffie af om die foto by haar te vat. Die eerste ding wat opval, is hoe skraal Steven Gordon se gesig is. Hy het meer sy ma se gesig—afgesien van sy pa se dun lippe—maar sy oë is ’n donkerder seegroen.

“Dankie. Ek moet net ’n paar dingetjies met kaptein Lubambo bespreek en dan sal ek en sersant Zaphalala julle formele verklarings afneem.”

“Wéér?” Heath Gordon leun vorentoe, verskeie fronslyne op sy voorkop. “Ons het gisteraand al deur alles gegaan. Daardie vroulike beampte het alles neergeskryf. Ons het hier gesit en alles vir jou vertel en nou wil jy weer daardeur gaan? Hou op rondfok en kry my seun!”


Van Tafelberg se plat kop af loop die Twaalf Apostels soos rugwerwels suidwes tot waar Llandudno onder die stuitjie lê. Soos die geraamte van ’n prehistoriese dier, dink adjudant Karla Blanckenberg toe hulle by die verkeerslig draai. Die kaptein het nie veel gesê toe hy gebel het nie, net dat dit ’n ontvoering vir ’n losprys blyk te wees en die gyselaaronderhandelaars word benodig.

“Money, money, money,” sing adjudant Jochemus Ruhling terwyl hy die Volkswagen Caddy met die donker teer langs stuur.

Die huise sit soos mossels teen die wand van die berg af. Sy kyk uit oor die see tot waar die grys op die horison in die lug klad.

Waar die pad doodloop, staan die Mercedes Sprinter teen die randsteen, wat beteken die kaptein is reeds hier. Ruhling hou agter stil en hulle klim uit.

In die ingangsportaal kry hulle kaptein Imran Correia, in gesprek met ’n tweede man, een van die EGM-groepleiers.

“Julle onthou vir kaptein Lubambo?” vra Correia. “Dis ’n Amerikaanse gesin. Hulle seun is gistermiddag ontvoer. Eerste oproep …”

Die res van die woorde raak weg in die gedruis in haar ore terwyl die koue deur haar bors sprei en sy die handjie sien, die rooi gaatjie in die dikvleis onder die duim. Die beeld betrap haar onkant en sy stoot dit uit haar gedagtes.

“… maar opstel so gou ons kan,” sypel Correia se woorde terug. “Die volgende oproep kan enige oomblik kom.”

Ruhling kyk na haar. Blanckenberg wonder of hy iets opgemerk het. Hy tel die swart tas en die grys gereedskapkis met die skokoranje deksel op. Correia moes dit saam met die groot boek teen die muur gesit het. “Ek en Karla sal die NOC regkry, ons soek net ’n spot.”

Blanckenberg vat die boek, verlig om iets te kan doen.

“Dit sal nie ’n probleem wees nie,” sê Lubambo. “Ek is seker meneer Gordon kan vir ons ’n kamer gee.” Hy draai om en loop asof hy die pad al goed ken.

Blanckenberg hou nie van die “ons” in daardie sin nie.

In die sitkamer neem ’n speurder ’n vrou met blonde hare se verklaring af. Die vrou klou ’n goue selfoon vas asof dit die Bybel is, seker die foon waarheen die ontvoerders gebel het. Blanckenberg herken die speurder as Ariefdien, wat darem een ding is waaroor sy nie hoef te bekommer nie.

Af met ’n paar trappies word die vertrek ’n eetkamer, waar ’n man by die lang tafel oorkant ’n vrouespeurder sit. Hy kyk op, sy wenkbroue laag, sy lippe styf.

Lubambo stel hulle voor en verduidelik wat hulle nodig het.

“Julle kan die studeerkamer gebruik.” Heath Gordon staan op. “Dis net hier langsaan.” Hy lei hulle na ’n deur oorkant ’n stel trappe wat boontoe en ondertoe spiraal en maak dit oop. “Sal dit doen?”

Correia klop drie keer teen die kosyn terwyl hy oor die drumpel trap. “Dit sal, dankie, meneer Gordon.”

Heath Gordon kyk nog ’n rukkie na die studeerkamer en gaan uit, Lubambo agterna.

“Moenie die plek opdonner nie,” fluister Correia. “Ruhling.” ’n Wenkbrou lig ook in sy rigting.

Ruhling kreun. “Hoeveel keer moet ek nog die byt van hierdie gesel voel?”

Correia grinnik op pad uit.

“Dis seker nou al ses maande later. En enigiemand kon daardie donnerse lamp omgemoer het. Die ding het in die middel van die gang gestaan.”

“Ja,” sê Blanckenberg. “Maar die probleem is jy was nou daardie iemand.” Die woorde kom outomaties, proe soos karton in haar mond.

“As dit jy was, sou geen haan daarna gekraai het nie.”

Sy klik haar droë tong. “Arme jy.”

“Gmf.” Ruhling skud sy kop en sit die gereedskapkis op die vloer neer. “Julle klomp hartelose bliksems het obviously die psigometriese toetse gegyppo.” Hy stoot die leerstoel met die hoë leuning eenkant toe en sit die tas op die lessenaar neer. Die glasblad rus op twee dik Z-vormige chroompote. Teen die derde muur is twee hoekige leerstoele en ’n koffietafel.

Ruhling fluit. “Kyk net hierdie view. Kan jy imagine op ’n mooi dag? Weet nie hoe enigiemand gestudeer kan kry met dít reg voor jou nie.”

“Dis hoekom daar blindings is.”

“Sal absoluut sacrilege wees om dit toe te maak.”

“Wel, berei jou daarop voor, want dis die eerste ding wat hier gaan gebeur.”

“Donner. Jy en die kaptein.” Ruhling gooi sy oë omtrent agteroor.

“Ag, jy sal oorleef, Jock. Kyk, ons het ons eie percolator.” Die sjiek swart-en-silwer masjien staan op die kabinet—die enigste meubelstuk wat nie glas of chroom bevat nie—saam met ’n skinkbord en drie duifblou Le Creuset-koppies.

“Percolator. Wat jy daar sien, is nie ’n percolator nie, dis ’n Nespresso-masjien.”

Dis haar beurt om ’n oogrol te doen.

“Ek kan seker maar dié ding uit die pad skuif?” Sy hande is klaar op die groot iMac-skerm.

“Solank jy dit nie in die proses opdonner nie.” Sy kry selfs ’n glimlag uit.

Hy trek vir haar ’n skewe gesig. “So, jy ís oukei. Ek het ’n oomblik gewonder.” Die bruin oë gee haar geen ruimte nie.

“Hoekom sal ek nou nie oukei wees nie.” Sy weet haar stemtoon ondersteun nie die woorde nie en dit krap haar nog rouer. Sy plak die boek op die tafel neer, buk en maak die gereedskaptrommel oop, haal die oorfone uit en grawe verder agter die maskeerband aan.

“Ek moet toegee,” sê Ruhling, “Apple is nie net experts met mense indoktrineer nie. Om ’n hele computer agterin hierdie plat skerm in te pas is nogal impressive.”

Blanckenberg skeur ’n A2-vel af en plak die hoeke met twee repe maskeerband teen die muur vas. Haar oë gaan sit op die Le Creuset-koppies toe sy terugdraai.

Sy sê ek luister nie na haar nie. Die stem is so duidelik in haar kop, dis asof sy die oorfone op het en die woorde weer daardeur kom. Sy praat van hierdie duur Franse ketel wat sy wil hê. En ek dink aan die ou man wat hulle in die kombuis vasgebind en kookwater in sy keel …

“Ons is eintlik sulke shallow beings. Ons prioriteite is heeltemal gatkant om.”

Sy kom terug na die studeerkamer toe, kyk na Ruhling, wat na die iMac kyk.

“Aan die ander kant, ten minste is ’n iPhone nuttig. Dis nie net ’n blink ding wat om jou nek hang nie.” Hy maak die tas oop, lig die deksel van die skootrekenaar wat bo-op die DMCU 4000 vasgemaak is, druk die een stel oorfone by die sok gemerk PRIM in, die tweede stel by SEC. Hy gaan outomaties deur die prosedure, net nog ’n toneel.

Blanckenberg skeur die volgende vel papier af, probeer daardie nag onder die donker oppervlak van haar onderbewussyn verdrink, maar dit bly net weer op ’n ander plek opduik. Hoekom ’n kind? Hoekom moes dit ’n kind wees?

“Kragprop, kragprop,” mompel Ruhling. “A, kragprop.”

Alles gaan oukei wees. Dis wat sy vir die kind oor die foon gesê het. Alles gaan oukei wees.

Maar niks was oukei nie.

Border
Losprys

Bestel Losprys aanlyn en laat dit by jou deur aflewer:

Of kry dit as ’n e-boek:

ENGLISH