Nuusbrief 2018|05

Losprys Houtbaai

Trosbom

Hallo, en welkom by my nuusbrief.

Hierdie nuusbrief is my gunsteling, want dis waar ek ophou vertel en voorstel en verlei en net die boek oopmaak. Want dis waaroor alles eintlik gaan. Hier is die eerste hoofstuk van Losprys:

“Weet jy wat is ’n trosbom, Zap?” Adjudant Enzo Ariefdien kyk na die wit bordjie: WELCOME TO REPUBLIC OF HOUT BAY, en stuur die Nissan Tiida om die slap draai na regs.

Uit die hoek van sy oog sien hy die beweging van sersant Fikiswa Zaphalala se kop. “Nee.”

Gewoonlik ontmoet sy Afrikaans en haar Engels mekaar heel gemoedelik in die middel, maar nie altyd nie. “’n Cluster bomb.”

“Nog steeds nee.”

“Dis ’n groot bom vol van ’n klomp kleiner bommetjies. Soos wat dit nou val, maak dit in die lug oop en skiet al hierdie bommetjies uit. Gewoonlik ontplof dit ’n entjie bokant die grond sodat dit so ’n scattereffek van verwoesting veroorsaak.”

Die pad kronkel skouerloos tussen die bome deur. Dis nogal woudagtig. Ariefdien herken dennebome en bloekoms tussen die ander onbekendes. Twee wit skoenlappers dwarrel om mekaar langs die pad, want dis mos amper lente, al lyk dit nie so met die grys lug en saamgepakte wolke nie.

“As jy nou daai prentjie in jou kop vat, en jy maak elkeen van daai bommetjies vol met stront, en jy laat dit oor ons twee se koppe ontplof, dan het jy die situasie waantoe ek en jy nou op pad is.”

Mure begin aan die regterkant, stene, hout, later aan die linkerkant ook soos wat hulle Houtbaai binnegaan. Een muur lyk soos ’n huis met vensters, ’n deur en selfs ’n gewel, maar daar is geen dak of ander mure nie. Die bome bly geil, al is heelparty grys en kaal. Rankplante neem verskeie van die stamme in, die hartvormige blare blink en welig.

“So die man wat gebel het, het geen eise gestel nie,” sê Zaphalala, “maar dit moet oor geld gaan. Anders, hoekom bel om te sê hy het die seun?”

“Ja. Nie dat kidnap for ransom juis groot in onse land is nie.”

“Het jy al ’n ontvoering vir ’n losprys ondersoek?”

“Daar was ene waarby ek betrokke was. Seker so vyf jaar terug. Vrou wat ontvoer is. Maar dit was amateurs, man. Hulle het die idee uit ’n movie gekry.” Hy gee ’n eennootlaggie deur sy neus en skud sy kop. “Gedink, maar dís nou ’n maklike manier om geld te maak. Nou sit hulle in die tronk. Dit begin dalk opsteek, want daarso was nou al ’n paar ryk Moslem-sakemanne ontvoer. Maar dis hoofsaaklik mos maar die donnerse Nigeriërs wat mekaar ontvoer omdat die een vir die ander ene geld skuld.”

“Ja, Nigeriërs is net geïnteresseerd in geld. Suid-Afrikaners verkies om te ontvoer vir verkragting en moord.”

Ariefdien ry om die sirkel by die polisiestasie. Langs die sportveld staan ’n plaat wit hokkies; dit lyk soos vraghouers.

“Ek verkies ook moord.”

Zaphalala kyk na hom.

“Met ’n moordslagoffer is jou fokus net om die moordenaar te kry. Nou is dit jou verantwoordelikheid om ’n kind terug te kry.”

Aan die oorkant van die dorp draai hy regs en hulle klim vinnig hoër teen die pas uit. Oor die kruin strek die Atlantiese Oseaan tot op die horison, stil en grys.

“Met ’n ontvoering vir ’n losprys is daar ten minste kontak met die ontvoerders,” sê Zaphalala.

Miskien. Maar hy het geen begeerte om ’n kind se lewe in sy twee hande vas te hou nie.

By die verkeerslig draai hy links na Llandudno. Die see sit nou aan sy regterkant. Voor hom styg ’n skerp koppie met ’n punt wat soos ’n opgewonde tepel lyk. Rotse lê soos ligte grys sproete teen die groen helling. Maar dis die houthuisie aan die linkerkant van die pad wat sy aandag trek.

“Sekuriteitskameras,” sê Zaphalala.

Die kameras sit teen die kant van die huisie en behoort elke voertuig wat in- en uitry af te neem. ’n Blou vierkantige teken sê MONITORED AND PATROLLED BY ADT SECURITY.

“Is dit die enigste pad in en uit?”

“Ja.”

“Die kameras is nie versteek nie. Die ontvoerders moes daarvan geweet het.”

Ariefdien stoot sy bril hoër op sy neus. “En dit het vir hulle nie afgeskrik nie.” Wat hom al klaar laat dink aan ’n gesteelde voertuig met vals of gekloonde nommerplate. Dis die probleem met opvallende sekuriteit: Wanneer dit as afskrikmiddel werk, hou jy daarvan; wanneer dit faal, wens jy dit was versteek.

Die huise is teen die berg af gebou tot by die see daar ver onder. Die helling is so skuins dat net die mure en geplaveide opritte—tegnies “afritte”—aan sy regterkant sigbaar is, nie eens die dakke van die huise steek uit nie. Aan die ander kant verrys die strukture maklik tot drie verdiepings, net glas en balkonne. Op die draai staan twee rye “pionne” wag in ’n voortuin.

Anderkant die stopstraat luier ’n wit Peugeot Boxer langs die pad. ’n Paneelwa is natuurlik ideaal vir ’n professionele ontvoering. Die agterkant is heeltemal toe. En hulle het al verby twee ander voertuie gery wat iets met herstel- of installeerwerk te doen het. Dit sal nie juis aandag trek nie.

Die Tiida skommel oor ’n spoedwal wat met spierwit strepe geverf is. Breed en plat om nie die lae Duitse motors se buffers te skraap nie. Hy ry om ’n bakkie met C. C. L. FLOORING op die deur. Baie mense kom van buite af in.

Verskeie voertuie staan aan die einde van die doodloopstraat: ’n dubbelkajuitklagtebakkie, ZH26, en ’n paar ongemerkte sedans, een met die addisionele lugdraad van ’n polisiekar, die groepleier s’n.

Ariefdien hou ook teen die randsteen stil en hulle klim uit. Die lug is koel teen sy wange.

Die huis is aan die regterkant van die pad, ’n hoekige boog wat see toe swel, die mure die kleur van nat sand, die vensters donker. Die dak is gelyk met die straat. Tollende piramides flits op die hoeke.

’n Kamera sit soos ’n slakoog teen die motorhuis se muur en langsaan staan ’n uniform by ’n stel trappies wat daal.

Ariefdien fluit deur sy tande. “Shit, maar dit is vir jou ’n view, hè?” Die groen vloei soos verf teen die koppie met die tepel af, raak op waar die gladde ligbruin rotsvingers die see in wys. In die verte steek ’n stukkie wit sand uit en ’n berg rond dit af. Daar is oral berge hier, elke rigting waarin hy draai behalwe see toe.

Sy selfoon lui en hy antwoord. “Kaptein?”

“Adjudant Ariefdien, waar is jy?” Hy kan hoor kaptein Fundile Lubambo hou hom in, maar die Engels vibreer nogtans in Ariefdien se oor.

“Net hierso buite die huis, Kaptein.”

“Wat doen jy? Bewonder jy die uitsig?”

“Ons is op pad in.”

Zaphalala het alreeds haar identifikasiekaart vir die uniform gewys en halfpad met die trappe afgeloop.

Die foon gaan dood en Ariefdien volg Zaphalala. Die voordeur swaai oop en Lubambo staan daar in sy swart pak en sneeuwit hemp.

“Het jy vir ontbyt gestop, adjudant Ariefdien?” Lubambo se gedempte toon haal nie die skerp randjies uit sy woorde nie. “Die slagoffer is ontvoer, nie vermoor nie. Ons kan nie bekostig om tyd te mors nie.”

Ariefdien hou sy sug in. Hoëprofielsake is soos driedubbele espresso’s vir die groepleier. Al die aandag. En met hierdie een sal daar nog baie wees.

Die trosbom het oopgemaak. Hy kan al amper die gefluit hoor.

Net lekker begin lees? Lees die res van hoofstuk een op my webwerf. Of kry maar net die hele boek, want dit gaan net erger raak ;)

Dan kan jy ook sommer aan die kompetisie deelneem. Hierdie stel van vier koffiebekers—Mags, Menck, Claire en Enzo—moet ’n huis kry. Dit kan joune wees, maar net as jy deelneem.

En laastens, die Losprys-boektoer. Details is op my webwerf. Kom kuier asseblief saam.

Losprys Boektoer

Dankie dat jy gelees het.

m.s.

Losprys Oktober 2018

Wil jy my nuusbrief per e-pos ontvang? Teken in.

Wil jy nie meer my nuusbrief ontvang nie? Teken dan maar uit. Dit sal natuurlik ’n stukkie van my doodmaak, maar as jy regtig voel jy moet, sal ek seker maar op ’n manier sonder jou moet aangaan. En vasklou aan die hoop dat jy weer eendag sal terugkom …