Ware misdaad

“… if you want to understand the artist,
look at his work.”
John Douglas

Ware misdaad. Dit was my ondergang. Reeksmoordenaars soos Jeffrey Dahmer en profielsamestellers soos John Douglas het my verlei om gruwelstories te verruil vir misdaadfiksie. Hoe meer ek gelees het, hoe meer wou ek hê. Hoe my ouers nie destyds na die titels op my boekrak gekyk en my geneem het vir sielkundige evaluering nie, bly vir my ’n raaisel.

Ná my honneurs in Sielkunde het ek begin om intensief navorsing te doen oor reeksmoordenaars en profielsamestelling in voorbereiding vir my eerste misdaadriller. In die proses het ek Crime Library ontdek. Dit was ’n webwerf wat aan CourtTV behoort het en ’n wonderlike bron van misdaadverwante inligting, van moordenaars tot forensiese tegnieke tot onderhoude met kenners. En anders as baie ander bronne op die internet, was die artikels deeglik nagevors, deur die redaksie beoordeel en teen betaling geplaas. Dit was soos ’n ware-misdaadboek wat heeltyd groei.

Maar daar was nie ’n enkele artikel oor Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars nie. Ek het gedink dis ’n situasie wat reggestel moet word, want ons het heelwat reeksmoordenaars geproduseer. En ek was dan nou juis besig om oor hulle op te lees. Toe kontak ek Marilyn Bardsley en sy sê ek is welkom om ’n storie te stuur. Ek skryf toe ’n artikel oor Stewart Wilken en dit word aanvaar. Dit was in 2004. Teen 2006 het ek nog ses artikels vir Crime Library geskryf, en nie net oor reeksmoordenaars nie.

Ongelukkig het ’n ander netwerk CourtTV gekoop en nie dieselfde waardering vir Crime Library gehad nie. Nuwe artikels is nie meer aanvaar nie en uiteindelik is die webwerf verwyder.

Stewart Wilken

Crime Library
2004

Stewart Wilken, ook bekend as “Boetie Boer”, het tien slagoffers tussen 1990 en 1997 in Port Elizabeth, Suid-Afrika, vermoor, insluitend sy tienjarige dogter, Wuane. Wilken is veral ’n interessante geval omdat hy twee verskillende soorte slagoffers geteiken het, naamlik volwasse vroulike prostitute en jong tienerseuns.

Die Sizzlers-massamoord

Crime Library
2004

Gedurende die nag van 20 Januarie 2003 word tien mans vasgebind, in die kop geskiet en keelaf gesny in die Sizzlers-masseersalon in Seepunt, Suid-Afrika. Net een oorleef die slagting. Geld en juweliersware is uit die kluis gesteel, maar was dit die ware motief vir die massamoord, soos die skuldiges, Adam Woest en Trevor Theys, beweer?

David Selepe

Crime Library
2005

Tussen Julie en September 1994, word agt liggame van vroue in hul twintigs in die veld in Cleveland, ’n voorstad van Johannesburg, Suid-Afrika, ontdek. Hulle is verkrag en met ’n gordel of onderklere verwurg. Die klere wat by die liggame gevind word, dui aan dat hierdie vroue aandag aan hul voorkoms gegee het. Hoe het ’n reeksmoordenaar daarin geslaag om hulle na hierdie industriële area te lok? David Selepe word gearresteer en erken dat hy vyftien vroue vermoor het, maar weier om ’n skriftelike bekentenis te onderteken. Tydens ’n toneeluitwysing op 18 Desember, val Selepe een van die speurders aan en word noodlottig geskiet. Intussen word nog liggame van vroue ontdek—op ’n soortgelyke manier verkrag en vermoor—in die veld by Atteridgeville, Pretoria. Was David Selepe die moordenaar, was hy ’n medepligtige van Moses Sithole, of was hy onskuldig?

Moses Sithole

Crime Library
2005

Op 16 September 1995 word ’n vrou se liggaam in ’n veld naby Boksburg, Suid-Afrika, ontdek. Twee dae later het die polisie nog nege liggame in dieselfde area ontdek, in verskillende stadiums van ontbinding—’n reeksmoordenaar het hierdie veld as sy begraafplaas gebruik. Die manier waarop die slagoffers verkrag en verwurg is, is soortgelyk aan sowel die slagoffers in Cleveland, Johannesburg, wat met David Selepe verbind is, as dié wat ná Selepe se dood in Atteridgeville, naby Pretoria, gevind is. Moses Sithole word uiteindelik skuldig bevind aan die verkragting van veertig vroue en die moord op sewe en dertig vroue en een kind. Maar wat was Sithole se konneksie met David Selepe? Daar is ook interessante ooreenkomste tussen Moses Sithole en die Amerikaanse reeksmoordenaar, Ted Bundy.

Alison

Crime Library
2005

Gedurende die vroeë oggendure van 18 Desember 1994 word Alison deur ’n man voor haar woonstel in Port Elizabeth, Suid-Afrika, ontvoer. Hy laai nog ’n man op en hulle ry na ’n verlate area, waar hulle Alison eers om die beurt verkrag, toe bewusteloos wurg en uiteindelik haar keel en maag oopsny en haar vir dood agterlaat. Maar Alison het ’n innerlike krag en wil om te bly leef. Sy kruip tot by die pad en oorleef die aanval om later haar aanvallers, Frans du Toit en Theuns Kruger, in die oë te kyk en talle mense wêreldwyd te inspireer en motiveer.

Marleen Konings

Crime Library
2005

Marleen Konings, ’n Nederlandse uitruilstudent, verdwyn gedurende die laaste dae van 2003, ná ’n vakansie in die Tuinroete langs die suidkus van Suid-Afrika. Die polisie stel vas dat sy saam met ’n man, Rob Cowley, gereis het. Verdere ondersoek onthul dat “Rob Cowley” se regte naam Ferdinandt Mostert is—’n gewoontemisdadiger met ’n lang misdaadrekord. Mostert word aangekeer en neem die polisie later na Marleen se liggaam. Sy was egter nie Mostert se eerste slagoffer nie.

Tanya Flowerday

Crime Library
2006

Op Vrydag 13 Junie 2003 laai Tanya Flowerday se pa haar by ’n klub in Randburg, Suid-Afrika, af. Haar liggaam word op ’n sypaadjie teen ’n muur gevind—erg aangerand, verkrag, verwurg. Ronald Grimsley, ’n dwelmverslaafde, word gearresteer. Hy beweer dat twee Nigeriërs Tanya verkrag en vermoor het om ’n “snuff”-film te maak, in ruil waarvoor sy dwelmskuld afgeskryf is.

ENGLISH