“A short story is like a quick kiss in the dark from a stranger.”
Stephen King
Die aanhaling voel effens creepy aan hierdie kant van die nuwe millennium, maar toe ek Skeleton Crew in die vroeë 90s gelees het, was dit heel romanties—die aanhaling, nie die stories nie (van my gunsteling kortverhale deur Stephen King is in hierdie bundel: “The Mist”, “The Raft” en die fantastiese siek “Survivor Type”). Dit was die tyd toe ek my eerste wankelrige skryftreë gegee het, toe ek gereeld iewers met die oorblyfsels van my pa se ou Unisa-werkstukblokke gesit en donker wêrelde in potlood bou het.
My eerste kortverhaal was “Vengeance”, 26 bladsye met soveel clichés as wat ek kon inpas: die storie begin met ’n droomtoneel, daar was ruimtewesens en duiwelsaanbidders, geheueverlies … ek het nie teruggehou nie. En uit die aard van die saak was my eendimensionele hoofkarakter se naam Stephen. Dis ’n storie van uitsonderlike swak gehalte, maar eerste soene is gewoonlik maar kwylerige, morserige affêres. Beide ondervindings was vir my magic.
Kortverhale is waar ek verlief geraak het op skryf. En daarom sal dit altyd ’n spesiale plekkie in my hart hê. Ongelukkig is kortverhale die straatkinders van die boekwêreld. Lesers verkies romans, wat beteken uitgewers verkies romans. Digbundels sukkel ook met verkope, maar dit word ten minste beskou as ’n kunsvorm wat beskerm moet word. Kortverhale bedel meestal op straat.
Dis hoekom ek so dankbaar is vir dié uitgewers wat nog kortverhaalbundels publiseer. Vir die US Woordfees wat sedert 2016 jaarliks ’n bundel uitgee. En vir tydskrifte soos Vrouekeur, Huisgenoot en rooi rose wat nog stories plaas, al is dit deesdae so verskriklik min woorde.
En ek is veral dankbaar vir dié lesers wat bundels koop en stories in tydskrifte lees, want sonder julle sal die kortverhaal doodgaan.
Bundels

Die trommel
Skrik op die Lyf
Saamgestel deur Deborah Steinmair en Gerda Taljaard
Uitgegee deur Tafelberg-
Einde-2014 kom ek op ’n uitnodiging op LitNet af: “Is jy bonatuurlik woordbegaaf, met ’n verbeelding soos ’n vingernael wat oor ’n swartbord knars? Skryf dan ’n gru-
Wel, met my skryfwortels in Stephen King se donker akkers het ek niks meer nodig nie, maar die betrokkenheid van Deborah Steinmair as een van die samestellers maak dit selfs meer onweerstaanbaar. Want ek het onlangs Poppekas gelees en dit het reguit na my hopie gunsteling Afrikaanse boeke toe gegaan.
Ek kan nie onthou hoe die idee gekom het nie, maar ek onthou dit was heeltemal te lekker om hierdie siek storietjie te skryf. En ek was vreeslik ingenome toe ek hoor dis gekies om ingesluit te word—nogal by Deborah.
Lees ’n uittreksel uit “Die trommel”.
Stiefpa sit op die bank. In sy regterhand klem hy die DStv se afstandbeheerder vas. Gewoonlik sou hy ’n Castle in sy linkerhand gehad het, op sy bobeen gestut, teen die drillerige maag wat oor sy skoot smelt. Die borshare sou bo sy vergeelde frokkie uitgepeul het.
’n Mens sal dink die feit dat hy daar sit, pla my die meeste. Hy is immers al amper twee weke lank dood. Maar dis eerder die vooruitsig om die verrottende bloed en breinweefsel van die bank se rugleuning af te was wat my so frustreer dat alles sommer om my dof raak.
Wanneer ek weer kan fokus, sien ek hy het op pad sitkamer toe ’n spul maaiers op die mat gemors. Op die bank ook. Wriemelend op soek na kos.
Stiefpa sit net daar. Kyk Die Nataniël Tafel. Nogal vreemd, aangesien hy nooit ’n goeie woord oor Nataniël te sê gehad het toe hy nog geleef het nie. Ek wonder of hy die grap sal vang as ek vir hom The Walking Dead wys. Waarskynlik nie, my stiefpa was nie bekend vir sy sin vir humor nie.
Vandat hy dood is, praat hy nie meer nie. Kan nie sê ek mis sy stem nie. Dit het ’n nasale byklank gehad, soos ’n broeknaat wat skeur. Die inhoud van sy gesprekke het nie hiervoor opgemaak nie.
Ek kyk na die spleet in die agterkant van sy kop, die geskeurde breinweefsel, die maaiers wat daarbinne vreet. Darem jammer ek het nie sy eerste terugkeer beter hanteer nie. Maar, die omstandighede in ag geneem, kan ek myself nie juis verkwalik nie.
Nogtans, daar was beter opsies as die byl.
Die afwesigheid van sy linkerhand pla my. Die vel en vleis staan grof en geskeur waar die arm by die gewrig ophou. Tipies van my stiefpa om sy hele hand af te kou as die duim genoeg sou wees.
Maar dit beteken ek sal iets meer drasties moet bedink. Ek het gereken die boeie was ’n oulike stukkie poëtiese geregtigheid. Wie sou kon dink Stiefpa het soveel deursettingsvermoë?

Die pop
Bly
Saamgestel deur Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-
Uitgegee deur US Woordfees, 2016
In 2015 kry ek ’n uitnodiging van die US Woordfees om ’n “spesiale skrywersgeleentheid” by Lanzerac by te woon. Daar kondig hulle ’n kortverhaalbundel aan wat tydens die volgende Woordfees uitgegee sal word en hulle vra inskrywings. Daar is nie voorskrifte ten opsigte van tema nie, maar dis slegs vir skrywers wat reeds gepubliseer is.
So loop mens maar en dink terwyl jy aan ander dinge werk en uiteindelik kry ek my idee by Nanette van Rooyen, toe sy vir my ’n projek wys waaraan sy werk: ’n kleremaaksterpop waaraan sy stukkies lap en stories hang, getiteld Huid. Op pad terug begin die idee van die gedigte-
Lees ’n uittreksel uit “Die pop”.
Hy sit in ’n stowwerige hoekie van die motorhuis. Ek kan sy hartjie sien klop, teen die vel. Deur die vel ook, omdat dit effens deurskynend is. Dit lyk soos ’n donker klont en dit klop baie vinnig.
Ek steek hom vinnig met die sosatiestokkie se skerp punt en dit laat sy stertjie loskom. Dit wriemel soos ’n wurm in die stof. Dis sodat die ding wat hom wil vang agter die stert moet aangaan terwyl hy vlug. Maar hy kan nêrens heen gaan nie. Ek het hom vasgekeer.
Sy vel duik eers in voor die skerp punt deur hom steek. Dis nie moeilik nie, ek doen dit net stadig. Hy wriemel nou nes sy stertjie en hy skree. Ek was die eerste keer verbaas, ek het nie geweet hulle skree nie.
Daar kom goed by hom uit. Soos bloed, maar dit lyk nie soos ons s’n nie. Hy raak stil. Die stert maak nog patroontjies in die stof. Iets wat dood is, maar dit lyk of dit lewe.

Kira
Skadustemme
Saamgestel deur Lelani Fourie
Uitgegee deur Crystal Lake Publishing, 2016
My eerste kortverhaal is in 2004 in rooi rose gepubliseer. Dit was ’n storie met ligte bonatuurlike elemente en dit het twee keer se herskryf geverg om Corlia Fourie tevrede te stel. In die proses het ek ook geleer om tonele te sny en bondiger te skryf. (In daardie jare het ons nog deur die Poskantoor gewerk en Corlia het met die hand teruggeskryf; ek het steeds die briewe.)
Ek het “Kira” weer onder hande geneem in Desember 2014 en dit by my nuusbrief ingesluit. En toe op my webwerf geplaas, waar Lelani Fourie dit gelees en gevra het of sy dit by ’n bundel kan insluit; Joe Mynhardt van Crystal Lake Publishing wou die Afrikaanse gruwelwaters vir e-boeke toets.
Lees ’n uittreksel uit “Kira”.
Tamason.
Ek stoot die huisie se deur oop, die Knysna-
Ek is bly om terug te wees. Ek het nog altyd Tamason as “terug” gesien en die woonstel in Stellenbosch as “weg”, al bring ek my dae in die studentedorp deur. Dit laat my altyd weer heel voel.
Dis hoekom ek hierheen gevlug het.
Ek het Tamason by my ouers geërf. Van die begin af was daar ’n band tussen my en die huisie; dit was ek wat haar die naam gegee het, toe ek klein was. Ons het op die stoepie gesit en my ma het vir my die sonsondergang gewys. Toe die rooi vingers, ’n vrou se vingers sonder twyfel, sysagte strepies deur die wolke trek, het ek een woord gesê: “Tamason”. Wat ek probeer sê het, was “tamatieson”, maar in daardie stadium was tamatie nog óf “matie” óf “tama”, na gelang van die sin, of my bui. En so is my liefdeshuisie gedoop.
Dit neem my die res van die middag om die huisie ordentlik skoon te maak, “van hoek tot kant” soos my ma so lief was om te sê. In die proses ontdek ek allerhande vieslike gediertes wat heerlik hier in die menseafwesigheid kom broei en muteer het en almal word summier ge-
Met die stof en lyke verwyder en my lugweë skoon genies, gaan sit ek met ’n Castle op die ou swaaibank op die stoep. Ek kyk uit oor die water. Die kabbels lyk so kalm, maar die oppervlak is ’n donker sluier.
Ek pak ’n vuur aan en braai ’n hele pak wors. Teen die tyd dat dit reg is, staan daar nog drie leë bierblikkies langs die braaiplek. Ek eet helfte van die wors saam met ’n rolletjie en gaan sit weer op die swaaibank, my tweede laaste Castle in die hand.
Ek word bewus van hande. Sagte hande, vrouehande, wat versigtig aan my voorkop raak. Ek maak my oë oop, deurmekaar en gedisoriënteer, en skrik.
Maar sy is al vyf tree weg. Haar oë is groot en donker soos die meer, haar wange dofwit en glad in die gaslamp se lig, haar mond effens oop. Donker hare hang tot op haar skouers. Sy het ’n los wit rok aan, iets wat amper soos ’n laken om haar liggaam vou, en haar kaal voete is teen mekaar. Sy hou haar hande voor haar.
Ek maak my mond oop om iets te sê, maar sy is reeds weg.
Net weg. Soos ’n druppel reën op die meer.
Ek vryf oor my gesig en wonder of ek wakker is. Ek voel nog haar koel vingerpunte teen my vel.
Ek staan op en trap my leë bierblikkie langs die swaaibank raak, verloor my balans en ploeg neer.
Dis een manier om seker te maak ek is wakker. Ek bly op die plankstoep lê en wonder oor haar. Was sy regtig? Of was dit net ’n droom?

’n Dun blou lyn
Wys
Saamgestel deur Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-
Uitgegee deur US Woordfees, 2017
Ek hou veral van die Woordfees-
Ek was diep in navorsing en karakterwerk vir my nuwe riller—toe nog net bekend as “no 4”, nou Losprys—en het gedink een van die hoofkarakters se agtergrondstorie sal eintlik goed werk as ’n kortverhaal. En op dié manier kon ek ’n storie vir die Woordfees-
Lees ’n uittreksel uit “’n Dun blou lyn”.
“As iemand hier probeer inkom, skiet ek almal dood. Álmal.”
Die stem kom hard en vinnig deur die oorfone. Die klem op die laaste woord dui op sy vrou en twee kinders, Lindie en Christiaan Junior. Die name staan op die groot vel papier oorkant adjudant Karla Blanckenberg. Ook hulle ouderdomme: ses en drie jaar. Twee witkoppies, volgens die beskrywing.
“Niemand gaan inkom nie, Christiaan.”
Blanckenberg hou haar stem rustig, in toon sowel as tempo. Die polisietaakmag het die straat afgesper en hou die huis dop. Hulle werk aan ’n plan vir ingeval hulle takties moet optree.
“Nou wat maak julle dan hier? Gaan weg.”
“Ons kan nie weggaan voor ons nie seker is almal is veilig nie.” Sy hoor deur die oorfone ’n kind op die agtergrond huil.
“Dit het niks met julle te doen nie.”
Dis donker buite die blou gordyntjies wat toegetrek is voor die ruite van die Mercedes Sprinter se agterdeure. Sy sit op die bank, agter die tafelblad wat in die lengte van die voertuig af loop. Regs van haar staan die tas met die kommunikasietoerusting in die gat wat daarvoor uitgesny is. Die draad van haar oorfone kom uit die sok gemerk PRIM, vir primêre onderhandelaar. Nog ’n draad kom uit die sok langsaan, vir die sekondêre onderhandelaar, adjudant Jochemus Ruhling.
Hy sit oorkant haar en beduie met sy hand sy moet voortgaan.
“Jy klink kwaad, Christiaan,” sê sy. “Vertel my wat gebeur het.”
“Ek wil nie met jou praat nie. Gaan weg.”
Maar sy hoor sy asemhaling deur die oorfone. Die kind huil nog steeds, dieselfde herhalende klank op een noot. Hoekom troos die ma nie? Het hy haar aangerand?
Heloïse Steenkamp het om 21:47 ’n vriendin gebel en gesê sy het haarself in die badkamer toegesluit, Christiaan het haar met sy dienspistool gedreig, hy het die kinders, bel die polisie. Die vriendin het teruggebel, tevergeefs. Volgens die bure was daar geen skote nie.
“Is dit Christiaan Junior wat ek hoor?” vra Blanckenberg.
“Ja.”
“Hy klink bang.”
“Hy sal oukei wees. Dis als …”
“Dis als?”
“Dis nie ek wat als wil breek nie.”
Die foon gaan dood.

Sprokie vir ’n Plain-kind
Op die spoor van
Saamgestel deur Rudie van Rensburg
Uitgegee deur Tafelberg-
Tertius Kapp het my gekontak oor ’n bundel speurverhale wat Tafelberg beplan. Rudie van Rensburg sou saamstel en hulle het 15 skrywers gevra om stories te skryf. Geen manier dat ek nie deel van hierdie projek wou wees nie. Plus, die woordtelling het tot by 5000 gegaan (gewoonlik is die afsnypunt 2500 of 3000), wat mens meer ruimte gee om die storie te ontwikkel.
Ek het ’n bietjie navorsing gedoen en geskryf aan my oorspronklike idee, maar hoe verder ek gevorder het, hoe meer het ek besef dit gaan nie in 5000 woorde inpas nie. Intussen het my navorsing vir Losprys my na Mitchells Plain toe geneem, waar my een hoofkarakter bly, en toe ontwikkel daar ’n nuwe idee. Dit het begin met twee blink ogies onder ’n bed …
Lees ’n uittreksel uit “Sprokie vir ’n Plain-
Dis die ogies wat ek eerste sien, blink in die donker onder die bed, in die verste hoek. Hy maak nie ’n geluid nie.
“Dis oukei,” sê ek. “Kom. Niemand gaan vir jou seermaak nie.” Ek steek my hand uit.
Hy reageer nie. Die blink kolletjies verdwyn ’n oomblik en verskyn weer.
“Ek is van die polisie. Jy hoef nie bang te wees nie. Jy is veilig nou.”
Dit moet die seuntjie op die foto’s in die leefkamer wees. Foto’s wat nou bloedspatsels op het. Hoeveel het hy gesien van wat die bloed in daardie vertrek veroorsaak het? Of het hy slegs die geluide gehoor?
Die kolletjies verdwyn en verskyn.
“Oukei. Ek sal wag tot jy reg is om uit te kom. Maar ek gaan vir my net gemakliker maak hierso.” Ek skuif terug en gaan lê op my sy sodat ek hom nog kan sien. “My naam is Asim. Wat is jou naam?”
Net die klam oë wat knip.
Ek draai op my rug, want ek wil nie heeltyd na hom staar soos ’n roofdier nie, en trek my knieë op. “My vriende het vir my Skate genoem. Oor ek altyd op ’n skateboard was. Ek sal liewer nie vir jou vertel waar ek die skateboard gekry het nie. Dit was voor ek my ways gemend het en ’n poliesman geword het.”
Losper se stem dryf by die deur in, natuurlik weer die een of ander simpel ding kwytgeraak, want daar is ’n gelag. Gewoonlik sal ek saamlag, daar waar ons langs ’n liggaam staan en hy die gruwelike realiteit vir ’n oomblik laat kraak, maar nou wil ek hê hy moet sy mond toehou.
Ek kyk onder die bed in. “Funny ding is hoeveel mense vir my gesê het ek gaan nog ’n arm of ’n ding met daai skateboard breek. Maar toe breek ek my arm met sokker. Natuurlik oor ek voor die girls afgeshow het.”
Hy sit nog net so stil in die hoek. Hoe lank voor Losper kom kyk wat van my geword het en die fyn draadjies uitmekaar trek wat ek hier probeer weef?
Ek tik teen my maag. “Ek raak darem nou vir jou honger.” Drie eiers lê in die potjie op die stoof, die water weggekook. Twee snye brood staan in die rooster, reg om af te druk, ’n bottel mayonnaise langsaan. Hy het nog nie geëet nie. “Weet jy waarvoor is ek lus? ’n Kentucky Rounder. Hou jy van KFC?” Ek loer na hom en kyk weer na die plafon.
“Pops.”
Dis so sag dat ek nie weet wat ek gehoor het nie, maar ek voel dis ’n kritieke oomblik. En dan kliek dit. “Die nuggets.” Ek probeer my opgewondenheid oor die deurbraak uit my stem hou. “Dis ’n goeie keuse. Ek sê jou wat, laat ek gou kyk of ek iets kan organise. Ek is nou terug.”
Ek staan op en loop tot by die deur, fluit saggies deur my tande. Losper kyk om en maak sy mond oop, maar ek beduie vir hom om stil te bly. Helfte van my bly in die kamer; ek wil hê die seuntjie moet my kan sien.
“Die kind is onder die bed,” fluister ek.
“Wat? Hoe het die uniforms dan …”
“Hy is honger,” sny ek hom af, “en ek dink ek kan hom uitlok met KFC. Kan jy organise? Dit moet die Pops wees, die nuggets.”
Losper hou sy hand uit.
Ek haal my beursie uit en gee vir hom ’n R50-
“En vir my troubles?”
Ek gee hom ’n kyk en hy loop. Om die taak aan ’n uniform te gaan delegeer, soos ek hom ken.
Ek gaan lê weer langs die bed. Praat is nie eintlik my ding nie, maar ek doen wat ek kan. Die donker syfer soos ink by die kamer in en ek gaan skakel die lig aan. Vir die eerste keer kan ek ook die gesiggie in die skemer uitmaak. Die donker oë is groot en ek kan nog sien waar die traanspore op sy wange droog geword het. Hy is opgevou, so klein as wat hy hom kan maak.
Uiteindelik hoor ek Losper saggies van die deur af roep en ek gaan na hom toe.
“Was meer as vyftig.”
Ek ignoreer hom en vat die sak. Die geur gaan reguit na my maag toe. Ek vis die houer uit en haal die deksel af. Kniel voor die bed en kantel die houer in die seuntjie se rigting.
“Ek sit dit hier neer. Hierso is ook ’n milkshake vir jou.”
Ek skuif agteruit en gaan sit teen die muur.
Wag.
Uiteindelik sien ek ’n handjie onder die bed uitsteek. Toe die gesiggie.
Hy hou my dop.
“Haai,” sê ek. “Dis lekker om vir jou te kan sien.”
Die swart oë knip net.
Ek kyk in die rondte. “Ek hou van jou kamer.”
Ek het nooit my eie kamer gehad nie. Moes altyd deel met my broer. Dit was nie regtig ’n krapplek nie, baie kinders in Mitchells Plain het dit baie erger, veral as jou dobbelsteen sleg val en jy word oos van die spoor gebore.
Die seuntjie kruip stadig uit, stukkie vir stukkie, soos ’n verkleurmannetjie, sy oë heeltyd op my.
Ek bly sit, my bene opgetrek, hande op my dye. Ek beweeg nie, haal skaars asem.
Hy sit op sy knieë, rug teen die bed, en hou my dop. Hy steek sy hand uit en vat die houer. Kyk eers weer na my voor hy ’n stukkie hoender vat en in sy mond druk. Ná die derde stukkie eet hy gulsig en ek glimlag.
Hy hou op kou, kyk in die houer, kyk na my. Hou dit na my toe uit.
Ek skuif nader op my boude en vat ’n stukkie hoender, sit dit in my mond. “H’m, dit was ’n goeie keuse. Lekkerder as ’n burger.”
Ons deel die res, maar ek sorg dat ek stadiger as hy eet. Ek haal die melkskommel uit die sak en gee dit vir hom.
Hy vat ’n sluk, kyk op na my. Die swart oë is nat. Dit loop oor.
“My daddy is dood.”
Hy praat nie weer nie.

Rooi angelierblare
Hartlam
Saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair
Uitgegee deur Tafelberg-
Gerda Taljaard het ’n uitnodiging gestuur vir haar en Deborah Steinmair se volgende projek, ’n bundel verhale oor die liefde. Natuurlik, aangesien dit Gerda en Deborah is, het hulle nie net gewone liefdesverhale gesoek nie, maar alles van onbeantwoorde liefde tot waansinnige liefde tot liefde tot die dood toe.
Ek het jare terug ’n gedig geskryf oor hierdie man wat gereeld langs ’n meisie se hospitaalbed sit. Sy is in ’n koma en hy weet nie of sy ooit gaan wakker word nie. Ek het aan daardie gedig gedink en dit was die idee vir my storie.
Lees ’n uittreksel uit “Rooi angelierblare”.
Die verpleegsuster laat my in. Almal hier ken my al.
Toe ek jou sien, glimlag ek, soos altyd. Ek loop tot langs jou bed, vryf nog gou die laaste bietjie antiseptiese handreiniger tussen my vingers weg, buig oor en soen jou. Al maak jy nooit jou oë oop nie, is jou lippe warm. Droërig, maar sag. Voor ek die stoel nader trek en jou hand vat, talm ek ’n oomblik om jou in te asem, jou vel te ruik. Jou vingers is koel en ek streel waar die rofies eers was, waar die merke stadig ligter raak.
Ek het vir jou nog ’n angelier gebring. Dis in my sak. Ek wens ek kon dit langs jou bed los, maar hulle is so streng oor blomme hier. Hulle sal darem die kaartjie by die ander opplak.
Soos altyd sit ek eers net na jou en staar. Jy is vir my so mooi. Ek drink jou gesig met my oë in, van jou haarlyn af waar daar ’n paadjie oopval, die rooibruin kartels wat oor die kussing sprei, tot by jou wenkbroue wat breër begin en dan puntig onder jou hare inswenk. Dan jou oë, die kurwe waar jou ooglede teen mekaar gesluit lê, die ooghaartjies wat in skerp bondeltjies aan mekaar klou, die sproete wat oor die brug van jou neus gesif lê, en af oor die boonste helftes van jou wange, jou lippe wat effens oop is ná ek jou gesoen het, die punt van jou ken.
Ek kyk verby die buisie wat by jou neus inloop na die klein spore wat die lewe op jou gelaat het: die duikie op jou wang waar jy seker ’n waterpokkie gekrap het, die lyntjies in die vel om jou oë, die kreukels op jou voorkop, en natuurlik die nuwe merke. Ek vee jou hare weg sodat ek die patroon van jou oor kan volg, eers die rand, die drie gaatjies wat jy daarin laat maak het, twee onder en een bo, daarna die kronkels van die slakkehuis. Dan jou wangbene waarop die lig weerkaats, die holtes waar die skaduwees poel. Ek kyk na die vel aan die kant van jou keel, bokant die materiaalbandjie wat die plastiekpyp in plek hou, hoe sag en dun jou vel daar is, hoe ’n aar klop … klop … klop …

Papie
100%
Saamgestel deur Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-
Uitgegee deur US Woordfees, 2018
Ek was op die Skuldig-
So het “Papie” op my hardeskyf gelê … tot die sluitingsdatum vir die Woordfees-
Lees ’n uittreksel uit “Papie”.
My sussie is spesiaal omdat sy amper vermoor is. Almal dink so. Hulle praat so mooi en sag met haar, asof sy van spinsuiker gemaak is, en hulle wil heeltyd vir haar goed aandra: tee met ’n Oreo-
Ek en my sussie deel ’n kamer, want my broer bly in die ander een. Hy werk al, maar hy bly nog by ons. Eintlik slaap en eet hy net hier. Ek sien hom nooit meer nie.
My wasgoed word nog steeds op my bed neergesit, maar Lienke s’n word in die kas weggepak. Ons eet glad nie meer blomkool nie, want Lienke hou nie daarvan nie. Ek hou van blomkool, veral met gerasperde kaas wat bo-
Lienke gaan nie meer na die gewone skool toe nie, want groepe mense maak haar bang. Hulle is oral om haar en sy kan nie oral sien nie. Haar hart hamer in haar keel en sy slaan in koue sweet uit en sy kan nie asem kry nie. Dit voel asof sy geen beheer meer oor haar liggaam het nie, sy is vasgevang en wil net wegkom, wegkom, maar sy kan nie.
Saans bring my ma Horlicks en kyk hoe Lienke dit drink. Sy trek die duvet tot onder my sussie se ken en soen haar op die voorkop, soos toe ons klein was. Sy sit nie die lig af wanneer sy uitgaan nie; my pa het ’n flou gloeilamp ingesit en dit brand dwarsdeur die nag.
Lienke kry altyd koud, maak nie saak hoe warm dit is nie. Sy bewe en dra my pa se truie sodat sy die moue oor haar hande kan trek. Sy gee nie eintlik meer om hoe sy lyk nie. Haar vriendinne kom kuier nog, maar hulle praat anders met haar. Hulle praat nooit meer oor seks nie. Ook nie oor seuns nie. En Lienke vertel nie vir hulle hoe sy partykeer eet en eet en eet en dan alles opgooi nie.
Ons kan nie meer reekse en flieks kyk waarin daar geweld teen vroue is nie, so die televisie is maar selde aan. My pa hou nie van komedies nie, want mense wat probeer snaaks wees, is nie regtig snaaks nie, veral nie as een van die mense Charlie Sheen is nie. Vrydae en Saterdae is daar darem rugby aan. Die stilte raak partykeer so hard ek wil my ore toedruk.
Lienke gaan elke week na ’n berader toe. Sy voel beter wanneer sy terugkom, maar dit hou nooit nie. Sy vertel ook nie alles vir die berader nie. Party goed steek sy weg.
Tydskrifte

Nettievanniebure
Vrouekeur
Uitgegee deur Caxton Magazines, 1 Desember 2017
Toe ek in Junie 2017 Potchefstroom toe is om by die ATKV se Skryfskool te gaan praat, het ek ’n idee, ’n boekie en ’n potlood saamgevat. Daar was nogal ewe ’n skryftafel in my kamer en die eerste deel van dié storie is daar geskryf. Met potlood op papier soos toe ek op skool begin het.
Lees ’n uittreksel uit “Nettievanniebure”.
“Nettievanniebure is weg! Sy’s weg!” Cliffie skree in die aanhardloop toe ek nog in die straat aangestap kom. “Niemand weet waar sy is nie! Sy’s weg! Net weg!”
Hallo, ek is Nettievanniebure. Ek hoor haar dit sê, haar stem se lae toonhoogte, sonder die elle wat haar tong nie gevorm kan kry nie. Haar oë is skeef en blink in die ronde gesiggie. Die twee kort boksterte bons toe sy opkyk. Sy staan in die voordeur en dis die dag nadat ek laas jaar hier ingetrek het. Ek kom sê net hallo.
Cliffie is net oë en ’n mond met arms wat waai asof hy probeer opstyg. Hy kom tot stilstand voor my en hyg. “Nettievanniebure is weg! Almal soek haar, maar sy’s weg!”
Hy wag seker nog die hele tyd dat ek terugkom sodat hy iemand kan vertel.
“Wat bedoel jy ‘weg’?” vra ek.
“Niemand weet waar sy is nie.” Dis Cliffie se eerste sin sonder ’n uitroepteken. Die woorde dra swaarder aan die punt. Cliffie se gesig ook, noudat dit net uit oë bestaan.
Ons begin weer beweeg, loop met die straat na die inrypad toe. “Is jou ma hier?”
“Nee, Mamma help soek. Sylvie bly by my.”
Dit verduidelik hoekom hy op straat rondloop; Sylvia dink haar foon se skerm is die werklikheid en die wêreld is net kleure wat in haar periferie verbygaan.
“Het iemand iets gesien? Waar soek hulle?”
Cliffie is vyf, so ek het nie regtig veel hoop vir antwoorde nie. Hy bied ook niks aan nie. Noudat hy uiteindelik die woorde kon uitkry wat hy duidelik so lank ingehou het, lyk hy afgeblaas. “Nettievanniebure was nog nooit weg nie.”

Kersverhaal
Huisgenoot
Uitgegee deur Media24, 21 Desember 2017
Ek het nogal heelwat storie-
Lees ’n uittreksel uit “Kersverhaal”.
Sy gooi solank die suikermielies in die groot mengbak. Boney M se stemme klink soos die leë blikkies wat teen mekaar kap, maar dit laat haar glimlag. Kersfees moet Boney M hê. Behalwe vir wat vanmiddag in haar bord geskep gaan word, is dit die enigste geld wat sy op haarself uitgegee het. Sy het lank in Cash Converters in die Promenade gestaan en besluiteloos getob oor die CD, alles opgeweeg wat sy eerder met die R30 kon koop. Maar Kersfees moet Boney M hê. Die radio is ’n ou gekrapte Philips. Die Lombards se dogter het dit vir haar gegee, want kinders luister nie meer so musiek nie; alles is selfone en oorfone of klein, ronde luidsprekertjies.
Sy gee die blokkies hoender weer ’n roer in die pan, gooi die suiker en vanieljegeursel by die mielies.
Gewoonlik help ten minste een van die dogters, maar hierdie jaar het sy hulle uitgejaag om saam met die kleintjies parkie toe te gaan. Dis belangrik vir haar om alleen hierdie ete voor te berei.
Die voordeur se handvatsel kletter en sy word koud, luister na die voetstappe om te identifiseer of dit hy is. Maar dis lig en vinnig en sy ontspan. Die badkamerdeur stamp oop, die toiletring kap teen die bak … sy moet seker bly wees Jerome het huis toe gekom om te piepie en dit nie sommer teen die muurtjie gedoen nie.
Sy gooi melk by die hoender, spoel die maatbeker uit en tap dit vol water. Sy loop voorkamer toe en sit dit eers op die gedekte tafel neer. Agt borde kon sy ingedruk kry, vir die grootmense en oudste kinders. Hoe graag sal sy nie ’n groot ronde tafel wil hê nie, sodat almal rondom kan sit, elke gesig byderhand.
Jerome kom verby in ’n bruin, blou en geel streep en klap die voordeur agter hom toe.
Soos haar ma het sy nog altyd ’n regte boom gehad vir Kersfees. Dit staan heeljaar buite die huis in ’n pot en Desember kom dit in en word versier. Toe sy kleintyd haar ma gevra het oor die mooi bome in die winkels, groenes en wittes met liggies en blink balletjies in rooi en blou, het haar ma gevra hoe ’n plastiekboom die boodskap van Kersfees kan oordra. Dis dan ’n ding wat deur mense gemaak is en dit het nie lewe nie. Dit begin groot en dit bly altyd dieselfde. ’n Regte boom is deur God gemaak. Dit begin as ’n saadjie en dit groei al hoe groter. Dit leef.
Drie weke terug het Damien die boom wat sy die laaste vyf jaar gebruik het in twee gebreek en die pot teen die diefwering voor die venster gegooi omdat sy nie die deur wou oopmaak nie. Dis oor hom dat sy die diefwering moes laat insit. Laas week het sy ’n nuwe boom gaan uitspit, ’n Port Jackson, langs die Swartklippad.

Hangberg
Vrouekeur
Uitgegee deur Caxton Magazines, 6 April 2018
Toe ek my laaste opvolgonderhoud met ’n polisievrou by Houtbaai-
Net die volgende week gebeur die insident waaroor dié storie gaan tydens konflik by Hangberg, aan die hawe se kant. En toe ek Losprys se manuskrip instuur LAPA toe, het ek ’n kortverhaal daaroor geskryf.
Lees ’n uittreksel uit “Hangberg”.
Konstabel Dominic Ruiters kyk hoe konstabel Vusumzi Gobeni die Njala se deur oopskuif en volg hom buitentoe, die Musler 12 haelgeweer in sy hande. Nog lede van die Openbare Orde Polisiediens peul agter hulle uit. Dis nie die eerste keer dat hulle ingeroep word Hangberg toe nie en die mense het vandag nog iets bygekry om oor kwaad te wees.
Ten spyte van al die beskerming wat hy aan het, die swart skerms voor sy knieë en maermerries, die geboë plate wat soos ’n ietermagog se skubbe oor sy skouers teen sy arms aflê, die koeëlvaste baadjie en die blou kopskerm, voel Ruiters altyd ontbloot wanneer hy uit die veiligheid van ’n Njala klim. Tien ton, koeëlbestand, skietgate in die swart metaalroosters voor die ruite, bande wat tot by sy heupe kom … hy het die Taakmag al met ’n Njala deur ’n metaaldeur gesien bars. Hierdie een het ’n ordentlike skraper aan die swart bosbreker vas sodat hulle deur versperrings in die pad kan ry.
Maar nou is hy buite op die teer met ’n haelgeweer en ’n ry rubberkoeëls dwarsoor die middel van sy bors. Verder aan met Haweweg borrel rook dik en donkergrys die lug in op waar houttafels oor die breedte van die pad getrek en die buitebande tussenin aan die brand gesteek is. Tussen die rook deur sien hy die vorms maal en skuif, rooi en blou en geel. Op die wal langs die kant staan nog mense, stil, party met kameras, ander met fone, asof hulle na ’n vertoning kyk.
“Kom in gelid.” Kaptein Meyrick Leite beduie met sy arms en hulle val in, hulle haelgewere gereed. “Vorentoe!”
Hulle begin loop, ’n ry langs mekaar asof hulle in ’n ou oorlogfliek speel. Ruiters voel sy hart teen die koeëlvaste baadjie klop. Langs Ruiters raak Gobeni aan ’n traangashouer teen sy bors. Agter hulle kom ’n vragmotor met ’n waterspuit nader.
“When I give you the instruction,” sê Leite, “dan fire julle. Move-
Hulle loop vorentoe. Ruiters kyk na die figure anderkant die brandende versperring, net kleure, rooi en blou en geel, wat agter die rook beweeg.
“Right, fire.” Leite sê dit hard, maar hy skree nie.
Hulle lig hulle haelgewere en skiet deur die rook. Die rubberkoeëls maak nie die harde plofgeluide soos bokhael nie. Hulle loop vorentoe en skiet weer en weer. Leë doppies hop op die teer. Die rooi en blou en geel vorms spat uitmekaar, maar verdwyn agter die grys rookmassa wat nou draai en na hulle toe kom.