Alles voel verkeerd hier …
Skimme en Spoorsoekers
“’n Moet vir Steyn se aanhangers.”
Ilza Roggeband
“Dit is skryfkuns op sy beste.”
Stefaans Coetzee
Niemand weet ek is hier nie.
Want ek mag nie hier wees nie.
’n Man staan op ’n brug, reg om te spring. ’n Geheimsinnige vrou verskyn snags langs die Knysna-
21 stories wat oor die afgelope 27 jaar uit die donker verbeelding van Martin Steyn gekruip het, insluitend sy eerste gepubliseerde storie en ’n vervolgverhaal met AO Colin Menck (Donker Spoor, Skuldig). Stories wat in bundels en tydskrifte verskyn het, stories wat nog nie voorheen gepubliseer is nie. Stories oor hunkering, trauma en onmoontlike keuses. Stories met donker draaie en wrang kinkels. Stories oor skimme en spoorsoekers.
“Soms lees ek kortverhale en wens ek het dit geskryf—hierdie bundel was so heerlik om te verslind, ek is bly ek het nie een verwoord nie, dat ek dit net kon geniet.”
Stefaans Coetzee
Rapport
“Steyn … daag jou uit met karakters wat jou laat ril én wie jy wil beskerm.”
Ilza Roggeband
Die Burger
“Steyn se donker verbeelding, geskoei op die lees van Stephen King, dans kringe om die leser op die maat van ironie, onverwagte kinkels, en wrang humor, uitgevoer deur oortuigende karakters.”
Anschen Conradie
Uit die perd se bek
Karakters
“Mens kan nie altyd verduidelik hoekom jy iets moet doen nie.”
TESSA is ’n fotograaf wat op uitnodiging by haar vriendin in Lüderitz gaan kuier. Aan die een kant probeer Tessa vlug, maar terselfdertyd is sy baie nuuskierig oor die geheimsinnige storie wat Sabine het om haar te vertel.
“Ek was vir sewe en twintig sekondes dood.”
SIMON is saam met sy ouers langs een van die mere in Sedgefield vir die Septembervakansie. Hy wil net alleen wees. Tot Luna langs hom op die pier kom sit. Dis moeilik om vir ’n mooi meisie nee te sê …
“Vertel my wat gebeur het.”
ADJUDANT-
“Die nederige kombuismes, altyd ’n gewilde opsie vir die onvoorbereide moordenaar.”
ADJUDANT-OFFISIER COLIN MENCK kyk na die meisie wat deurdrenk in haar eie bloedsmeersels op die kombuisvloer lê. Vir ’n veteraanspeurder by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid is dit ’n oorbekende prentjie, ’n handboekgevallestudie van ’n passiemoord, boonop met die slagoffer se mansvriend op vlug.
“Ek’s nie teen hulle nie, ek try net my werk doen.”
KONSTABEL DOMINIC RUITERS is ’n lid van die Openbare Orde Polisiediens, die linie wat met haelgewere en rubberkoeëls ontstoke inwoners moet beteuel wanneer bande aan die brand gesteek en klippe en petrolbomme gegooi word. Vandag is dit die vissers van Hangberg wat die strate in ’n oorlogsone verander.
“Dié is nie CSI Mitchells Plain nie.”
SERSANT ASIM HENDRICKS staan op ’n moordtoneel. Die slagoffer lê op die vloer in ’n plas bloed. Sy seuntjie kruip onder sy bed weg. Hendricks slaag daarin om hom uit te lok en kry vier woorde as beloning: “My daddy is dood.” Daarna sê hy niks. Maar wat kruip in sy kop weg? En weet die moordenaar hy was daar?
Uittreksel
Woensdag
Hy maak sy oë oop. Stadig, want sy kop is dof en swaar en dit voel asof elke deel daarvan klop. Wat het hulle alles gisteraand ingeneem? Hy weet hy en Justin was by Stones. Hy onthou die ry glasies op die toonbank.
Tequila.
En hy onthou … wit walms? Het hulle gerook?
Hy maak sy oë toe. Hy het Marlette belowe hy is klaar met tik.
En hy het so mooi gehou.
Motors ry onder in die straat verby en iemand roep. Iets met gewig stamp of val. Die geluide van die voorstad wat wakker is.
Sy mond proe soos die kombuisvloer in ’n studentewoonstel.
Hy maak sy oë weer oop. Hy is alleen in die bed. Marlette is reeds klas toe, seker lankal, te oordeel na die helder sonlig wat deur die gordynskreef syfer. En hier lê hy nog en slaap, asem sy eie muwwe alkoholwalms oor en oor in.
Hy skuif sy bene onder die duvet uit, kom regop en dop net weer om. Sy kop voel asof dit stadig op ’n wankelende as draai, ’n as wat deur sy brein steek. En ná die beweging voel sy maag asof hy op ’n bootjie is wat van kant tot kant geskommel word.
“Fok.” Hy moet iets vir sy kop kry. Hoe gouer, hoe beter.
Hy kom weer regop. Stadig.
Het hy gerook? Hy dink hy onthou die digte walms, maar hy onthou so min. Niks oor hoe hy by die woonstel en in die bed gekom het nie. En hy het nog sy denim aan. Hy sug en skud sy kop.
Nee. Dit moet hy beslis nie doen nie. Hy moet sy kop stil hou. Net klein, baie stadige beweginkies. Tot by die kas waar Marlette haar Mybulen hou. Hy skud ’n paar van die blou pille in sy palm uit, lek een op en gooi die res in die houer terug. Sy regterduimnael is vuil.
Hy bêre die houer en gaan badkamer toe vir water.
Daar is bloedsmeersels in die wasbak.
Hy knip sy oë. Die smeersels bly daar. En sy silwer Stanley-
Sou Marlette haar raakgesny het? Sy sou nooit die wasbak só gelos het nie.
Hy tel die mes op, druk die knoppie om die matsnyerlem uit te skuif, en sien sy ander naels is ook vuil. Hy bring sy hand nader aan sy gesig, probeer fokus. Dis donkerrooi. Lyk soos …
“Wat de …”
Hy sit die mes neer en loop tot by die venster. Dit lyk beslis soos bloed.
’n Koue kol skiet aan die binnekant van sy bors oop.
Sy linkerhand lyk dieselfde. Wat het gisteraand gebeur?
Hy kyk af na sy bostuk, maar sien niks op die swart materiaal nie, leun vorentoe en sien die bloedsmeersel op sy denim se regterbobeen.
Hy kyk na sy gesig in die spieël, trek die bostuk uit en kyk na sy bors, stroop die denim af. Geen wonde aan sy lyf nie.
Sy oë skuif van die donkerrooi onder sy naels na die wasbak, na die mes. Sy brein wil net eenvoudig nie verder as Stones onthou nie en dis ook maar net dowwe skerwe. As hulle by iets betrokke geraak het terwyl hulle uit was, hoekom is sy mes hier? En wie se bloed is dit?
“Wat de fok het gisteraand gebeur?”
Die Mybulen is bitter op sy tong, die blou lagie moes al afgesmelt het.
Sy hele lyf is hoendervleis en hy trek weer aan, soek sy foon in die kamer en maak WhatsApp oop. Geen nuwe boodskap van Justin ná hy gisteraand gesê het hy is hier nie. Dis ook die laaste keer toe WhatsApp hom gesien het.
Wat het gisteraand
Hy hou op tik, kyk na die letters, vee dit uit.
Hey. Nou net wakker geword. Moerse hangover, kan nie veel van gistraand onthou nie.
Sy duim huiwer bokant die driehoekie om te stuur, raak daaraan. Die boodskap pop weg en een grys regmerkie verskyn. Die tweede kom by. Maar dit bly grys. Die skerm verdof en hy vryf daaroor om dit weer helder te maak. Tyd tik verby en die regmerkies word nie blou nie.
“Fok!”
Hy gooi die foon op die bed neer. Vryf oor sy gesig. Die bitter smaak is sy hele mond vol. Hy wil dit wegkry en loop in die kort gang af, stadig, stut hom met sy hand teen die muur, hou sy kop met die ander een stil. Marlette het nie die gordyne voor die skuifdeur oopgetrek nie. Haar notas en handboeke lê op die koffietafel.
Hy gaan staan en trek ’n gesig. Sy skryf eksamen vanoggend. Hoe laat het hulle teruggekom? Het hy haar wakker gemaak? Natuurlik het hy. Gesuipte mense kan niks sag doen nie. En toe tot watter tyd toe geslaap, nie eens gesê sy moet lekker skryf nie. Hy sug en druk sy vingers teen sy ooglede.
Aan die regterkant hou die muur langer aan en hy draai stadig om die hoek by die kombuis in. Die blindings bokant die wasbak is ook nog toe. Dis baie …
“Marlette?” ’n Oomblik lank kyk hy net na die vorm van haar lyf wat in die skemer op die vloer lê. “Marlette!” Hy beweeg vinnig, trap in iets nats en diks en kouds, soos konfyt of stroop, kniel langs haar, verloor sy balans en val half bo-
Haar pajamabostuk is deurweek en taai. Dis bloed en dis oral. Hy registreer dit nou eers.
Hy stoot hom weg, voel hoe styf sy is, hoe koel, en wankel op sy hurke.
“Marlette?”
Haar oë is halfoop.
“Marlette.” Sy visie raak waterig en hy hoor ’n geluid, besef dit kom uit sy keel. Hy druk sy hand oor sy mond. Sy bors trek saam.
Hy steek sy hand na haar gesig toe uit. “Marletta.” Hy knip sy oë en trek sy hand terug, kyk na die bloed. In die skemer is dit donker op die teëls, op haar pajamas … op sy hand.
Die bloed in die wasbak.
Die bloed onder sy naels.
Sy mes.
Hy word yskoud en ’n klam lagie vorm op sy vel. Nee. Nee.
Hy kyk na die bloed op sy hande. Hy kyk na Marlette, dood en vol bloed, haar oë halfoop, en alles trek in hom saam, hy knyp sy oë toe en maak ’n uitgerekte geluid terwyl sy bors ruk.
Uiteindelik hou hy op. Die spoeg en snot hang in lelle van sy lippe en neus af. Hy vee dit met sy mou weg, kyk na Marlette. Nuwe trane maak haar wasig en hy kyk weg, snuif en staan op, val half na die kant toe en stamp teen die werksoppervlak. Sy skootrekenaar staan nog daar, langs die tekenbord met die papier, die houtskool, watte en kunsuitveër waarmee hy Marlette se gesig skep. ’n Donker streep lê bo-
Hy strompel in die gang op terwyl sy hart wild klop, stamp by die badkamer in, maak die kraan oop en druk sy hande onder die water, vryf en skrop, druk die Oh So Heavenly-
’n Deur klap en hy ruk, kyk om, hoor net sy asem jaag. Dit was by een van die ander woonstelle in die kompleks.
Gaan.
Die woord vorm helder in sy dowwe brein en sy hart jaag dit aan.
Gaan.
Almal gaan dink dis hy. Soos Griekwastad. Soos Henri van Breda. Soos die een wat die meisies in die koshuis vermoor het.
Hy kyk na die mes langs die wasbak.
Hy moet hier wegkom, iewers gaan sit en dink, probeer onthou. As hy net kan onthou.