Hy het teruggekom.
Die een wat die blomme op haar kar gelos het.
En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie,
hy het gekom om iets te vat.

Swartval

Swartval
“Steyn skep ’n donker nagmerriewêreld
wat mens bly boei.”
Vrouekeur
“Steyn voer ’n kragtoer uit
deur in die prooi se kop te klim.”
rooi rose
Border

Hy het teruggekom.
Die een wat die blomme op haar kar gelos het.
En hierdie keer het hy nie gekom
om iets te bring nie,
hy het gekom om iets te vat.

Vir haar.

En nou word Claire Winters iewers in ’n sel van sement gevange gehou. Eers plaas sy haar hoop op haar speurderbroer. Hy weet wie die man is wat haar ontvoer het. Maar nog ’n lang, donker dag eindig met ’n toebroodjie en ’n glas water en Derek kom nie. Claire besef hierdie keer sal sy haarself moet red. Voordat haar verstand heeltemal in die swart van die kelder oplos.

Die enigste uitweg is deur haar ontvoerder. Want hy het die kelder se sleutel. Maar net toe sy dink sy begin vordering maak, vind Claire uit waarvoor sy regtig aangehou word.

“Martin Steyn se derde krimi is ongetwyfeld die vreesaanjaendste, spannendste riller uit die korpus van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat in 2016 uitgereik is.”
Jonathan Amid
Rapport
“Behalwe dat Steyn hom binne drie jaar sekerlik as een van ons voorste skrywers in die riller-genre gevestig het, is dit sy menslike benadering tot karakters wat hom kop en skouers bo ander laat uittroon.”
Ronel Nel
rooi rose
“Ek hou nie eens van sielkundige rillers nie, maar ek het dié roman verslind omdat die verhaal met soveel vaart bly voortsnel en omdat die karakters al veelkantiger raak.”
Willie Burger
Vrouekeur
“Steyn kry dit reg om ’n vroulike innerlike krag en uithouvermoë in die karakter vas te vang en hy breek stereotipes af.”
Pieter Steyn
Die Burger
“Die skrywer se taalgebruik en beskrywings maak die situasie werklik in jou oë. Jy ervaar die vrees wat Claire in die donkerte ervaar; haar kortasem sonder haar asmapompie laat jou bors saamtrek.”
Maryke Roberts
LitNet
“Dis regtig ’n aansteeklike roman. Selfs al wil jy amper nie verder lees nie, kan jy jouself nie help nie.”
Thys Human
Pretoria FM
Window

Karakters

“Ek gaan nie weer iets opgee oor ’n man nie.”
CLAIRE WINTERS is 21 en vol drome om uit Robertson te kom, te reis en die wêreld te sien. Toe haar ouer broer Derek se droom waar word, en hy na die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid verplaas word, bly sy agter. Uiteindelik besluit sy om hom Kaapstad toe te volg.

“Ek het gedink dit sal goed wees as jy ’n slag weer goeie blomme kry.”
ADJUDANT-OFFISIER DEREK WINTERS is ’n speurder by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis. Toe sy suster onverwags voor sy deur arriveer, haar lewe in haar Tazz gepak, help hy haar indra.

“Want ek wil hulle vat en hulle hê en hulle seermaak.”
Eers los die BEKRUIPER een rooi blom onder Claire se ruitveër. Toe ’n dooie een. Toe drie swart blomme. Die sesde keer kom hy met ’n mes …

Uittreksel

Die hitte styg soos walms uit die teer van die parkeerarea op tot teen haar wange. Maart is al ’n week oud, maar die somer wil nie laat los nie. Sy loop stadiger en kyk in die rondte, die pepersproei sweterig in haar hand.

Sy sien niemand nie, net motors.

Dis al meer as twee weke van niks, maar sy kom nog steeds van voor af sodat sy die voorruit kan sien. Die ruitveër. Of daar ’n blom is.

Daar is nie. Daar is nooit meer nie, maar sy hou aan seker maak. En dan voel sy simpel dat sy gekyk het. Sy druk die pepersproei in haar handsak en pluk die rits toe.

Dis verby.

Die ou Tazz gaan weer ’n sweetboks wees. Volgende somer sal sy ’n nuwe karretjie met lugreëling hê.

Sy glimlag en lig die sleutel tot by die slot. Iemand het kougom daarin gedruk. Sy begin omkyk net toe die skaduwee oor haar val.

Sy ruk om.

’n Man kyk na haar met klein vaalbruin oë. Hy het net een wenkbrou wat dwarsoor sy voorkop strek. Dis hy, die een wat …

Die mes steel die res van die gedagte. Die lem is groot en blink met ’n growwe grys strook langs die boonste helfte. Die punt is sentimeters van haar borsbeen af.

Sy wil skree, iets doen, maar sy voel lam. Haar liggaam wil nie reageer nie. Haar gedagtes val oormekaar.

Hy vat haar boarm en trek haar na links tot teen die kar langs hare. Lek vinnig oor sy dun lippe. “Maak die deur oop.” Sy asem blaas warm in haar gesig en bring ’n plaakreuk saam.

“Daar is bubblegum in die …”

“Hierdie deur!” skree hy en beduie met sy kop na die ou blou kar langsaan.

“Vat net my handsak. Daar is geld in my beursie.”

“Ek wil nie jou geld hê nie.”

Alles word stadiger. Sy vingers wat om haar arm klamp. Die suur walm van sy sweet. Die oë. Dis die oë van iemand wat nie reg is nie. Dit maak haar banger as die mes wat nou teen haar kuiltjie druk. Daar waar haar hart so hard en vinnig klop.

Hy los haar arm en maak die deur oop. “Klim in. Voor die sitplek. Op jou knieë.”

Dit kan nie die werklikheid wees nie.

“Doen dit of ek sny jou keel af!”

Sy voel die brand toe die punt deur haar vel steek. Daar is niks wat sy kan doen nie. “Oukei. Moenie my seermaak nie.”

Hy het weer haar arm beet en trek.

Terwyl sy omdraai, kyk sy oor die parkeerarea, maar daar is niemand wat haar kan help nie.

Hy druk haar af, een hand agter haar kop, die ander een, die een met die mes, ’n vuis teen haar rug. Die sitplek is agtertoe geskuif en sy pas in op haar knieë. Hy vat haar handsak en die sak met haar kostuum en gooi dit op die agterste sitplek. Daar lê ’n verbleikte olyfgroen duvet met vlekke op en hy trek dit vorentoe.

“Lê plat!” Hy druk haar kop sodat haar wang en mond teen die mat druk.

Sandkorrels krap haar lippe en klou daaraan vas. Hy trek die duvet oor haar en maak die deur toe.

Sy ruk regop, onder die duvet uit, en sukkel om na die handvatsel toe te draai.

Die bestuurder se deur gaan oop.

Haar vingers is by die handvatsel toe die mes teen die kant van haar nek druk. Dis ’n harde, dun lyn teen haar vel.

“Asseblief, laat my gaan. Ek sal vir niemand sê …”

“Bly stil.” Hy trek haar aan haar hare terug, dwing haar plat en trek die duvet weer oor haar.

Die enjin skakel aan en die kar vibreer onder haar. Hy trek agteruit.

Sy sweet onder die duvet. Haar brein jaag net soos haar hart. Dis hy. Die een wat die blomme op haar kar gelos het.

Hy het teruggekom.

En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat.

Border
Swartval

Bestel Swartval aanlyn en laat dit by jou deur aflewer:

Of kry dit as ’n e-boek:

ENGLISH