Elke woord wat sy sê, kan ’n sneller wees
Blinde Kol
“Boeiend tot op die laaste bladsy.”
Phyllis Green
“Ek beveel dit hoog aan.”
Deborah Steinmair
Ek wil met Karla praat
of ek skiet almal dood.
Dis wat die jong man sê nadat hy sy pad by ’n dameskoshuis ingeskiet het. Minstens twee meisies lê dood voor die ingang. Niemand weet hoeveel daar nog aan die binnekant is nie. Maar die polisie weet hy het gyselaars geneem.
Hoekom het hy juis vir AO Karla Blanckenberg (Losprys) gevra? Nie sy of die ander lede van haar gyselaaronderhandelingspan herken hom nie.
Intussen arriveer AO Colin Menck (Donker Spoor, Skuldig) ook op die toneel. Met ’n dogter wat self ’n student is, voel die situasie heeltemal te persoonlik.
Terwyl Blanckenberg die jong man se binnewêreld probeer ontsluit, grawe Menck in sy verlede om uit te vind wat hom tot hierdie punt gedryf het. Maar hoe meer hulle leer, hoe meer onvoorspelbaar raak die situasie, en hoe groter die lewensgevaar vir almal betrokke.
“Martin Steyn is bekend daarvoor dat hy intrige, spanning en komplekse karakters treffend verweef. Blinde kol is geen uitsondering nie.”
Jannes Erasmus
Die Burger
“Dis uiters spannend en die dialoog en dinamika tussen karakters is fassinerend.”
Deborah Steinmair
LitNet
“Martin Steyn vra nie dat ons die skieter moet vergewe nie. Hy vra iets baie moeiliker: dat ons lank genoeg na hom moet kyk om te probeer verstaan waarom hy geword het wie hy is.”
Stefaans Coetzee
Rapport
“Wat Steyn uitmuntend doen, is om jou ook in die kop van die skieter te plaas sodat jy ’n geheelbeeld vanuit alle hoeke kry. Maar hy doen veel meer, hy belig ook sy ander karakters se diepste wesens en wys hoe dit inspeel op dit wat hul optredes motiveer.”
Phyllis Green
SARIE-boekeredakteur
“Dit is—soos hulle in Engels sê—’n page-turner. Mens kan nie ophou lees nie.”
Ilse Salzwedel
Skrywers en Boeke
“Die laag vir laag ontbloting van Blanckenberg se verlede, waarvan die relevantheid in die hede deurgaans blyk, verleen ’n persoonlike en diep emosionele komponent aan haar karakter.”
Anschen Conradie
Uit die perd se bek
Karakters
“Ek wil nie hê jy moet nog iemand doodmaak nie, nie een van die meisies nie, en ook nie jouself nie.”
ADJUDANT-
“Dit laat my altyd wonder. Sal ek eerder die ouer wil wees van daai meisie wat by die boom lê? Of die een wat haar geskiet het?”
ADJUDANT-
“Mens het nie beheer oor hoe dinge uitdraai nie, jy kan net jou werk doen met die regte intentions.”
ADJUDANT-
“Ek het self ook nie geweet wat worry is voor ek my meisiekind gehad het nie.”
KONSTABEL NIKITA KALUMPIE is Menck se partner. Sy het sonder pa grootgeword en dit knaag aan haar dat haar dogtertjie Rashay in dieselfde omstandighede is. Boonop bly Rashay bedags by haar ouma terwyl Kalumpie moordenaars se spoor volg.
“Somtyds verlang ek na die tyd toe ek nie geweet het wat in van die mense se koppe aangaan wat tussen ons rondloop nie.”
SERSANT ANENE WEIDEMAN vul die rol van datagaarder in die onderhandelingspan. Met haar liefde vir tegnologie, hou sy die inligtingbord by en doen al die elektroniese navorsing en naspeurwerk.
“En toe sit daai man die gun neer en sluit die deur oop. Toe dink ek ek wil ook weet hoe om daai te doen.”
SERSANT JEVAN BALOYI is ’n jong onderhandelaar wat nog ondervinding opdoen. Sy innemende persoonlikheid maak hom ideaal om Menck en Kalumpie te vergesel om inligting by die mense in te skieter se lewe te kry en as direkte skakel met die onderhandelingspan te dien.
Uittreksel
“Ons het ’n gyselaarsituasie in Stellenbosch. Dameskoshuis. Aktiewe skieter aan die binnekant, met minstens twee vuurwapens. Hy’t sy pad ingeskiet. Daar’s liggame op die toneel.”
Adjudant Karla Blanckenberg frons. “Ek is reg om te gaan, Kaptein, maar is daar nie onderhandelaars nader aan die toneel nie? Dit klink dringend.”
“Dit is.” Sy kan dit in kaptein Imran Correia se stem hoor ook. ”En daar is onderhandelaars op die toneel. Maar die skieter het spesifiek vir jou gevra.”
Haar frons verdiep. “Vir my? Weet ons wie dit is?”
“Nog nie. Maar ek vermoed hy’t al by ’n vorige geleentheid oor onse pad gekom en jy’t met hom gepraat daar.”
“Hoe oud is hy? Is dit ’n student?”
“Dit lyk so, ja, maar ons is nie seker van die ouderdom nie. Ons het nie ’n naam nie. Hy’s wit, praat Afrikaans. Ek kan hom nie geplaas kry nie.”
Sy het nie onlangs ’n toneel met ’n student gehad nie. “Pik Jock my op?”
“Daai’s die plan. Ek bel hom nou.”
Blanckenberg sit die foon neer en kyk na die venster. Haar brein hardloop deur tonele, soek, soek, soek, probeer dink wie dit kan wees.
“Ek het nog steeds nie ’n idee nie.” Adjudant Jochemus Ruhling lig sy linkerhand van die Mercedes Sprinter se stuur af.
Blanckenberg skud haar kop. Sy sif al vandat Correia afgelui het heen en weer deur die rekords in haar kop van almal met wie sy op tonele gepraat het.
Universiteitsgeboue glip aan weerskante van die pad verby, moderne wit blokke aan die een kant, ouer styl multiverdiepings met roesbruin teëldakke aan die ander. Studente in alles van kniebroeke en kort rompies, T-hemde en toppies, rokke tot sweetpakbroeke dwaal een-
Hy ry om die groot verkeersirkel met die denneboom wat soos ’n massiewe onversierde Kersboom in die middel staan. Twee voertuie versper die regterkantste uitgang, die wit-
Sy kyk ’n oomblik na hom en knik, delegeer die taak om die voertuig te skuif aan haar kollega.
Ruhling waai ’n dankie, maar kom net ’n entjie verder, want studente drom saam op die breë sypaadjie en dwarsoor die straat—net fone en volstruisnekke. Sekuriteitswagte met duifblou pette en rooiwynkleurige truie met wapens op die skouer probeer die studente oorreed om weg te bly.
“H’m, lyk of Kampusbeheer nogal ’n upgrade gehad het sedert my tyd.” Ruhling wurm die Sprinter se neus stadig vorentoe. “Selfde effek op studente, though. Flat ignore.”
Blanckenberg sien ’n paar lede van die media ook, wat meer sukses het om die studente se aandag te hou.
Ruhling gee op en skakel die blouligte aan. Omdat dit in die rooster versteek is, met nog ’n paar op die paneelbord, het dit nie veel meer impak as Kampussekuriteit nie—een nadeel van hulle ongemerkte voertuie—en hy tik met sy palm teen die toeter om hulle aan te moedig. Dis ook nie besonder suksesvol nie.
Maar ten minste trek dit die uniformbeamptes se aandag, want die diepseeblou pette met die geel agtpuntige ster van die Suid-
Ruhling leun sy kop by die venster uit. “Negotiators.”
“Draai in daar by die boom wat nie takke het nie.” Die uniform beduie. Hier is ’n goeie teenwoordigheid van hulle, ’n linie blou uniforms wat paraat agter die geel polisielint staan wat van bloekom tot bloekom en oor die teer tot by ’n padtekenpaal strek. Daar sal nog linies by elke pad en toegangsroete wees om die buiteperimeter af te kordon.
Hulle lig die lint en Ruhling ry onderdeur. “Die boom wat nie takke het nie. Is ’n boom wat nie takke het nie nog ’n boom? Is dit nie dan net ’n stam nie?”
Agter die heining aan die linkerkant van die pad is bome, bosse en gras wat lyk asof dit net wild groei. Die geboue aan die regterkant lyk soos koshuise.
Die stam met afgesaagde takke is ná ’n spoedhobbel, op die eiland tussen twee geplaveide ingange met wit-
Correia kom aangeloop in die geplaveide deurgang anderkant die silwer hek. “Ek maak oop, dan stop jy hier binne.”
Ruhling ry tot in die binnehoffie, parkeer onder ’n boom en hulle klim uit. “Capitão, hoe lyk dinge?”
“Nie goed nie. Kom, die TOC is hierdie kant toe.”
“Kon julle al uitvind wie hy is?” Blanckenberg kan nie wag tot hulle in die taktiese operasionele sentrum is nie.
“Nee. Al wat hy sê, is hy wil met jou praat.”
“Hoeveel studente is binne?” Ruhling sluit die Sprinter.
“Ons is nog nie heeltemal seker nie. Daar’s drie honderd een en twintig inwoners in die koshuis. Ons werk nog deur die lys om seker te maak waar almal is. ’n Klomp het uitgekom, maar ’n hele klomp is nog binne-
Binne loop hulle verby ’n gespikkelde toonbank met wegneemetes bo-
“En ons het meisies wat nie antwoord nie. Hulle kan dood wees, in die hospitaal wees, aangehou word as gyselaars, of veilig wees en net om een of ander rede nie antwoord nie.” Correia maak die volgende stel glasdeure ook met die kaart oop.
Agter die glas van die afgeskorte vertrek regs koukus drie lede van die Spesiale Taakmag in hulle gekamoefleerde uniforms om die tafel vol skootrekenaars, radio’s en velle papier—vermoedelik die uitleg van die koshuis se verskillende verdiepings—en werk die taktiese opsies uit.
Die res van die vertrek is ruim, en Blanckenberg herken ’n paar onderhandelaars wat met selfone en skootrekenaars of notaboeke by van die tafels sit.
Ruhling kyk knikkend in die rondte, onderlip opgetrek. “Nice spot wat julle hier het.”
“Ja,” sê Correia. “Daar’s ’n muurbalbaan net hier langsaan wat die Taakmag oorgeneem het as THA.”
Dis altyd handig as daar ’n lekker ruimte is waar die taktiese span kan opstel, toerusting gereed kry, ontplooiings bespreek en oefen.
Ruhling grinnik. “Hulle het seker al die layout van die koshuis op die vloer getape en als.”
Correia mik na sersant Anene Weideman toe by haar eie tafel op ’n stoel met ’n rooi rugleuning. Voor die avokadogroen muur langs haar is die inligtingbord. Daar is nie veel inligting op die vel papier nie, net ’n kort tydlyn, bondige beskrywing van die skieter: rondom twintig, donkerbruin hare, swart klere, rugsak, jaggeweer, pistool …
“Wys vir hulle die video.” Correia se stem trek Blanckenberg se oë van die bord af weg.
“Dis footage wat ’n student afgeneem het.” Weideman klik op haar muis en draai die skootrekenaar na hulle toe.
Die regop langwerpige beeld van ’n selfoonkamera verskyn op die skerm, rukkerig, half agter die growwe bruin bas van ’n boom. Dit loer uit oor die straat na die klompie luikrugmotors in ’n gemmerkleurige parkeerarea voor ’n wit drieverdiepinggebou met dieselfde roesbruin teëldak as dié waarby sy en Ruhling verbygery het. Daar is gille en ’n skoot wat klap. Dit eggo onmiddellik teen die koshuis se mure: ká-ga! Die beeld ruk en loer weer uit. ’n Figuur ten volle in swart geklee met die boggel van ’n swart rugsak stap tussen die motors deur, arm uitgestrek met ’n pistool in die hand. ’n Geweer hang oor sy ander skouer. Meisies skree en hardloop. Die hand ruk en skote klap. Ká-ga! Ká-ga! Een meisie skree en val op die gemmerkleurige grond. Sy beweeg, maar stadig. Haar vriendin kyk terug en draai om, roep iets. Nog ’n skoot klap in haar rigting. Sy val agtertoe op haar boude, kyk na die meisie wat stadig op die grond beweeg, op na die figuur in swart wat aangeloop kom, stoot haarself agtertoe met haar hande en voete, draai om, kom half regop en begin hardloop, haar arms aan weerskante van haar kop geknak. ’n Skoot klap en sy ruk, struikel en val op een knie, kom weer op en hardloop, buk agter ’n kar in. ’n Skoot klap en die ruit kraak asof dit skielik ’n grys filter gekry het. Sy hardloop gebukkend en verdwyn tussen ander karre in. Die man gaan staan by die meisie wat nog op die grond beweeg, kyk af na haar en mik die pistool na haar kop.
Blanckenberg druk haar vingers teen haar mond, hou op asemhaal.
Die pistool ruk en die skoot klap. Die meisie hou op beweeg. Hy buk oor haar, steek sy hand uit na haar toe, smeer sy vingers oor sy een wang, herhaal die beweging met die ander een.
“Hardloop, girl, hardloop.”
Blanckenberg verstaan nie wat Ruhling bedoel nie, maar sien die blonde meisie tussen twee motors hurk. Tussen die skieter en die koshuis.
Die figuur in swart draai en sien haar. Sy ruk agtertoe en val. Hy loop na haar toe, mik met die pistool, maar skiet nie. Hy gryp haar hare en trek haar regop, sleep haar in die koshuis se rigting. Tussen die afstand en die appelgroen blare van die boom in die parkeerarea is dit moeilik om te sien presies wat gebeur. Dit lyk of hulle ingaan. Nog ’n skoot klap, maar sagter en sonder die eggo.
“Is dit sy?” Ruhling kyk na die ander. “Het hy haar geskiet?”